Om sowat 1,6 km per dag te stap kan pasiënte se risiko vir die dood met amper die helfte verminder, beweer wetenskaplikes.

Daar is in ’n nuwe studie bevind dat ’n daaglikse stappie die risiko vir die dood by dié met bors- en prostaatkanker met tot 40 persent kan verlaag.

Nog uitslae wil voorstel dat dié met dermkanker hul risiko vir die dood kan halveer as hulle elke dag 4 km stap.

Die navorsing is gedoen deur Walking for Health, ’n netwerk stapgroepe wat bestuur word deur Macmillan Cancer Support en die Ramblers, wat gegrond is op bewyse van hersienings in Macmillan Cancer Support se Move More-verslag.

Navorsers het ook bevind fisieke aktiwiteit kan van die onuithoudbare newe-effekte van kankerbehandeling verlig, soos swelling by die arm, angs, depressie, uitputting, verswakte beweeglikheid en gewigsveranderinge.

“Vandag se navorsing lê die klem op ’n baie eenvoudige werklikheid – stap kan lewens red,” het Ciarán Devane, die hoofbeampte van Macmillan Cancer Support, genoem.

“Ons kan nie aanhou blind wees vir wat ’n baie eenvoudige en voor die hand liggende oplossing is nie. Fisieke aktiwiteit is ’n wondermiddel en gesondheidswerkers moet fisieke aktiwiteit, soos stap, voorskryf as ’n standaarddeel van kankerherstel.”

Terwyl die redes agter die voorgestelde deurbraak steeds onduidelik is, wil nuwe insigte in die teorie voorstel dat dit dalk toe te skryf is aan oefening wat estrogeen afbreek om “goeie” metaboliete te vervaardig wat die risiko vir party kankersoorte verlaag.

Die navorsers het bevind borskankerlyers kan hul risiko vir die dood met tot 40 persent verminder, en in prostaatkankerlyers was dit 30 persent. Die daaglikse stap van 1,6 km, gegrond op ’n pas van sowat 5 km/h, wat in sowat 20 minute afgelê word, is vergelyk met dié wat minder as ’n uur oefening per week doen.

© Cover Media