Die studie is in die vaktydskrif Stroke gepubliseer. Daarin is bevind die onvermoë om langer as 20 sekondes op een been te staan, kan verband hou met ’n verhoogde risiko op ’n stille beroerte. Stille beroertes is geringe bloeding op die brein; dis veral gevaarlik omdat daar geen simptome is nie. Dit verhoog die risiko van ’n volskaalse beroerte en ook demensie. “Die vermoë om op een been te balanseer, is ’n belangrik toets vir breingesondheid,” sê die hoofnavorster, dr. Jasoeharoe Tabara van die Universiteit van Kioto in Japan.

'Die vermoë om op een been te balanseer, is ’n belangrik toets vir breingesondheid.'

Balans word beskryf as die vermoë om die liggaam se massasentrum oor sy ondersteuningbasis te handhaaf. Om balans te handhaaf hang af van inligting wat die brein van drie bronne ontvang – die oë, spiere en gewrigte, en vestibulêre organe (binneoor).

Probleme met balans kom voor wanneer daar iets skort met die inligting wat die brein ontvang, soos wanneer ’n mens oorontsteking het. Balans verswak ook met die jare en volgens Brittanje se nasionale gesondheidsdiens val een uit drie mense bo 65 minstens een keer per jaar. Val is ook die algemeenste oorsaak van beseringsverwante sterftes by mense bo 75.

In vorige studies is bevind as jy hakskoene dra soos jy ouer word, kan dit dodelike valle voorkom omdat dit jou balans opskerp.

Ander maniere om dit te verbeter sluit in om op die plek te stap, wat die koördinasie tussen jou liggaam en oogbeweging versterk. Bly ook gerus aktief. Swem en rolbal is veral doeltreffend om koördinasie te handhaaf.

Dis nou die regte tyd om te oefen om op een been te staan. Hoekom dit nie voor die kassie doen of terwyl jy jou tande borsel nie? Jy sal sommer binnekort soos ’n flamink dwarsdeur jou gunstelingprogram kan staan.

© Cover Media