Navorsers aan die universiteite van Chester, Leicester, Sheffield Hallam en die Universiteitskollege van Londen het die voorstel om te staan gedoen om gesondheidsprobleme teen te werk wat veroorsaak word wanneer mense te veel sit.
'Mense bring na raming nege uur per dag op ’n stoel deur.'

Mense bring na raming nege uur per dag op ’n stoel deur. Dit beteken 60 persent van hul hele dag. So baie tyd voor ’n lessenaar of tuis op ’n rusbank kan lei tot gewigsprobleme en vetsug, of selfs tot ernstige gesondheidsprobleme, soos kanker en tipe 2-diabetes.

Daar is ook newe-effekte op die liggaam, soos rug-, nek- en spierpyn. Rugpyn is een van die algemeenste redes waarom mense tyd af neem by die werk, juis daar waar die pyn ontstaan het.

Public Health England het opdrag gegee dat die navorsing gedoen word en voorgestelde nuwe riglyne is in die British Journal of Sports Medicine gepubliseer.

Deskundiges stel voor dat werkgewers ’n “daaglikse kwota” tyd vasstel wanneer werknemers op hul voete moet wees. Dit kan aanvanklik twee uur wees, en vermeerder word tot vier uur.

Nuwe, hoër lessenaars behoort ingebring te word sodat mense kan staan terwyl hulle werk. Werkers behoort ook gereeld in die kantoor rond te stap en so die tyd te verkort wat hulle sit.

Die skrywers het gesê: “Kantoorwerkers bring 65 – 75 persent van hul tyd op stoele deur en meer as die helfte daarvan hoop op wanneer hulle lang tye aanmekaar sit.”

“Werkgewers behoort die beste maniere waarop dit (meer staantyd) bereik kan word te evalueer, of dit nou is deur te bepaal hoe en wanneer mense kan opstaan en beweeg, of deur die ontwerp van die werkplek.”

© Cover Media