Innerlike vrede kan in jou badkamer bewerkstellig word.

As jy gedink het ’n stort is net bedoel vir daardie vyfminute-afspoelsessie soggens, kan jy dit gerus heroorweeg. Dit hoef nie ’n ontspannende, uur lange bad te wees nie; ’n kragstort kan net so doeltreffend wees. Ons onthul ’n klompie truuks wat jou stortsessie terapeuties kan maak.

Sing

Dit kan wel gek klink, maar wetenskaplikes het bewys jou bui verbeter wanneer jy in die stort sing. Raai jou bure aan om oorpluisies aan te skaf en laat jou innerlike Mariah los.

Kundiges beweer al die endorfiene wat jy vrylaat en die manier waarop die vlakke van die streshormoon kortisol verlaag wanneer jy sing, is net so ontspannend soos joga. As jy oor die ouderdom stres, sal jy bly wees om te verneem sang hou jou jonk. In ’n studie in ’n dorp waar die lewensverwagting uiters hoog is, is bevind talle inwoners sing gereeld. Sang word boonop ook aan verbeterde hartfunksie en geestestoestand gekoppel.

Gebruik produkte wat stres die wyk laat neem

Aromaterapie kan nuttig wees vir mense wat aan stres ly. Dit is dus ’n goeie idee om in stortprodukte te belê wat bestanddele bevat wat ’n mens laat ontspan. Laventel, byvoorbeeld, word gekoppel aan die verlaging van angsvlakke, terwyl suurlemoen, sitroen, jasmyn en sandelhout ook goeie keuses is.

Stel die temperatuur

Maak seker die temperatuur is gerieflik warm as jy wil ontspan. Dit sal jou vaak maak en sorg dat die metaboliese werking, insluitend hartklop, vertering en asemhaling – trouens, alles wat jou gespanne laat voel – vertraag.

Verlig jou stemming

Die meeste bedrywige mense het nie tyd om kerse aan te steek en ’n lang badsessie te geniet nie. Net omdat jy nie tyd kan inruim vir die balie nie, beteken dit nie jy hoef ’n sessie mis te loop waardeur jy jou stemming kan verlig nie. Steek ’n kers met ’n kalmerende geur aan en laat brand dit terwyl jy stort.

© Cover Media