Die meeste van ons weet hoe dit voel om ’n kramp in die voet of been te kry. Die pyn wat jou ’n oomblik verlam laat, is iets wat bykans 95 persent van ons die een of ander tyd ervaar.

Die Amerikaanse akademie van ortopediese chirurge beskryf ’n spierkramp as ’n onwillekeurige saamgetrekte spier wat nie ontspan nie. Alle spiere werk in pare – ’n agonis en ’n antagonis. Wanneer een spier (’n agonis) saamtrek, sal die ander (’n antagonis) ontspan om te sorg vir ’n gladde, beheerde beweging. As die antagonis-spier nie behoorlik verslap nie, sal ’n kramp ontwikkel. Soms verg dit net ’n geringe beweging wat ’n spier verkort en ’n spasma veroorsaak.

Algemene oorsake van spierkrampe sluit in: die oorbenutting van ’n spier, ontwatering, ’n gebrek aan sout en minerale soos magnesium, kalium en kalsium, ’n besering of ooreising van spiere, of as jy vir ’n lang tydperk ’n sekere posisie handhaaf het.

Dit kan reggestel word deur die spier te strek, en as daar ’n kramp in die voet of been is, kan jy probeer opstaan en ’n bietjie rondstap. Of jy kan die spier sagkens strek tot dit nie meer ongemaklik is nie en dit so hou tot die kramp verdwyn.

Jy kan ook die geaffekteerde been of voet liggies vryf om die spanning te verlig. Massering help die bloedvloei na die spiere verbeter, wat die krampe en pyn verlig. Jy kan ook warm of koue kompresse op die geaffekteerde deel hou of ’n warm bad of stort neem – dit kan die onaangename sensasie en inflammasie help verlig.

Ontwatering kan ook ’n groot rol speel; daarom is dit belangrik om jou vloeistof-inname te vermeerder. Die regte skoene kan ook die pyn verminder. Maak seker jy dra geskikte skoene wat goed pas en jou voet ondersteun wanneer jy oefen. Moenie elke dag hakskoene of skoene met ’n nou toongedeelte dra nie – bêre dit eerder vir spesiale geleenthede.

© Cover Media