Goeie postuur gaan oor meer as om net met jou kop omhoog te loop; dit kan ook die verskil tussen goeie en swak gesondheid beteken.

Die regte postuur beteken jou bene is behoorlik in lyn en jou spiere, gewrigte en ligamente kan werk soos wat dit moet. Verder is jou organe ook in die regte posisie en kan dus op hul beste funksioneer. Interessant, né? Ons wed jy sit sommer al klaar ’n bietjie meer regop terwyl jy dit lees.

Behalwe dat daar in navorsing bevind is ’n swak postuur kan veroorsaak dat jou liggaamlike stelsels (soos vertering, asemhaling en spiere) nie so doeltreffend werk soos wat dit moet nie, is daar ook bewyse dat iemand met ’n swak postuur moeër kan wees en nie in staat is om hul werk doeltreffend te verrig nie. Tog is ons geneig om effens krom te sit omdat dit so gemaklik voel.

Daar is in nuwe navorsing bevind watter skade teksboodskappe aan jou ruggraat kan doen. Volgens ’n studie wat in die joernaal Surgical Technology International gepubliseer is, is afkyk na jou selfoon gelykstaande daaraan om ’n gewig van 27 kg op jou nek te plaas. Met ander woorde die gewig van ’n agtjarige kind wat op jou nek rus.

“Soos die kop vorentoe beweeg, neem die druk op die nek toe met 12 kg teen ’n hoek van 15 grade, 18 kg teen 30 grade, 22 kg teen 45 grade en 27 kg teen 60 grade,” sê Kenneth Hansraj, ’n rugchirurg van New York in die studie.

Hy het die bevinding gemaak nadat hy rekenaarmodelle bestudeer het van hoe swaartekrag die mens se ruggraat beïnvloed, met die aanvaarding dat die deursneemens se kop 5 kg weeg.

Sit dus jou foon neer en probeer van ons wenke vir ’n beter postuur:

Hou jy lyf in lyn terwyl jy staan of in ’n kantoorstoel sit.

As jy jou spiere aan die werk sit, kan jy die krom houding systap omdat dit deur moeë spiere veroorsaak kan word. ’n Blaaskans van ’n paar minute terwyl jy by jou lessenaar sit, kan wondere verrig.

Raak bewuster van jou postuur

Deur net aan jou postuur te dink, sal jy reeds ’n bietjie meer regop sit. Wees bewus van jou posisie terwyl jy sit en staan en pas dit aan.

Gebruik ’n rugkussing

Jy kan dit by jou lessenaar, die etenstafel en selfs in die motor gebruik.

Maklike oefening

Sneeu-engele is nie net vir kinders nie – die oefening op jou slaapkamervloer is ’n uitstekende manier om die dag mee te begin en af te sluit. Lê plat op jou rug en maak sowat twee of drie minute die sneeuengel-beweging stadig met jou arms vir ’n lekker strekoefening.

© Cover Media