Baie mense voel later hul bekommernisse hou hulle gevange, wat beteken hulle kan nie meer pret hê nie of sukkel om af te skakel.

Gelukkig is daar ’n paar eenvoudige maniere om jou te help afwen en alles draagliker te laat lyk.

1. Lei jou aandag af

Onthou: ’n Mens hoef jou nie aan kwade gedagtes te steur nie. Jy kan nie altyd verhoed dat dit jou tref nie, maar jy kan meer bewus wees van wanneer dit gebeur. Staan ’n tydjie af om asem te skep en sê baie duidelik aan jouself: “Hou op!”

Vestig dan jou aandag op iets anders – bel ’n vriendin, lees ’n boek, gaan stap ’n ent. So sal jy nie ’n punt bereik waar die bekommernisse jou oorweldig nie. As jy by die werk is, kan jy jouself vir vyf minute verskoon om vars lug te gaan skep.

2. Konsentreer op die hede

Bekommernisse het dikwels te doen met iets wat reeds gebeur het of nog kan gebeur. Daarom kan dit baie help om jouself terug in die hede te plaas.

Konsentreer op jou asemhaling en jou teenwoordigheid, kyk na jou omgewing en plant jou voete stewig op die grond. Herinner jou daaraan dat jy op hierdie oomblik oukei is en konsentreer op dit wat werklik in jou lewe aangaan.

3. Skryf dit neer

Het jy laas op 13 dagboek gehou? Wel, dalk moet jy weer daardie aantekeningboek nadertrek.

Om iets op papier neer te skryf is soos om dit uit te woed, en sodra jy iets in ’n sin of twee neergeskryf het, help dit jou verstaan wat die probleem nou eintlik behels. Dit kan veral ’n goeie manier wees om kop skoon te maak wanneer jy sukkel om te slaap.

4. Basta met beheer

Dis moeilik om beheer prys te gee en vir sommige mense kan dit nogal vreesaanjaend wees, maar jy moet besef jy het nie beheer oor elke situasie nie. Jy kan net vir jou eie gevoelens, gedagtes, woorde en dade verantwoordelikheid aanvaar. Sodra jy dit besef, sal dit makliker wees om beheer oor te gee – veral van nadelige spanning.

5. Kalmeer jou gedagtes

Oortuigings in jou onderbewussyn beheer dikwels jou reaksie op spanningsvolle ervarings; daarom moet jy aandag hieraan gee. Let op enige kwade gewoontes en patrone, en doen moeite om dit met gesonde denkpatrone te vervang.

© Cover Media