Al is jy nie ’n alkoholis nie, kan drank ’n baie negatiewe invloed op jou gesondheid en jou voorkoms hê.

Langtermyngevolge

  • BREIN: Te veel alkohol kan lei tot vergeetagtigheid, verwardheid en ’n gebrek aan koördinasie. Apatie, disoriëntasie en geheueverlies kan ook voorkom. Die brein kan ook krimp.
  • HART: Te veel alkohol verhoog die vlakke van sekere vette in die bloed, wat kan lei tot hoë cholesterol en hartsiektes.
  • LEWER: ’n Gesonde lewer breek alkohol af sodat dit skadeloos is, maar as die lewer te hard moet werk, kan dit permanente skade ly en mettertyd ondoeltreffend raak.
  • GEWIG: ’n Blikkie bier (340 ml) bevat tot 570 kJ en 120 ml droëwyn kan tussen 350 en 500 kJ bevat. Dit beteken so ’n glas is gelyk aan twee snye witbrood.
  • PANKREAS: Alkoholmisbruik kan lei tot pankreatitis. Dit veroorsaak kwaai brandpyn in die boonste deel van die buik,
  • naarheid en vomering wat vererger word wanneer jy eet.
  • VRUGBAARHEID: Vroue kan sukkel om swanger te raak en mans se spermtelling kan verlaag.
  • KANKER: Jou risiko vir onder meer bors-, kolon-, long-, nier- en lewerkanker verhoog namate die hoeveelheid alkohol wat jy drink, vermeerder en hoe langer jy gereeld drink.

Alokohol en jou voorkoms

  • OË: kan bloedbelope en moeg lyk. As jy saans drink, sal dit ook jou slaappatroon beïnvloed. Jy raak dalk vinniger aan die slaap, maar jou REM-slaap sal negatief beïnvloed word en jy sal die volgende oggend moeër lyk en voel.
  • VEL: ’n Drankie dehidreer jou liggaam. Dit beteken jou vel word ontneem van belangrike voedingstowwe en kan mettertyd dof begin lyk. Alkohol kan ook enige bestaande veltoestande vererger, soos roosaknee en psoriase.
  • GELAATSKLEUR: Alkohol laat die bloedvaatjies in jou gesig vergroot. Herhaalde vergryping aan alkohol kan permanente skade beteken en are rooi en spinnerakagtig laat voorkom.