Prof. Rachel Neale het voorheen bevind mense wat in gebiede met helderder UV-strale woon, se kans op pankreaskanker is 30 tot 40 persent kleiner as dié wat in gebiede met dowwer UV-strale woon.

Rachel, wat by die mediese navorsingsinstituut QIMR Berghofer in Australië werk, meen dis belangrik dat mense ’n mate van blootstelling aan sonstrale kry, ten spyte van al die waarskuwings van die skade wat dit kan aanrig.

Sy meen dit is veral noodsaaklik dat mense wat nie genoeg tyd het om uit te gaan nie aan ’n manier dink om dit deel te maak van hul daaglikse roetine.

Te min sonlig kan daartoe lei dat babas en kinders ragitis kry en volwassenes osteomalasie of sagte bene.

“Selfs al is dit net twee tot drie minute per dag, sal dit genoeg wees vir vitamien D,” sê Rachel.

“Dis beter om meer vel oor ’n kort tydperk bloot te stel as minder vel op die lang duur. Gaan uit en lig jou hemp of langbroek op – wys jou maag en bene.”

Die professor werf nou 25 000 Australiërs bo 60 wat aan ’n ondersoek gaan deelneem om te kyk of vitamien D die risiko vir kanker van die eierstokke, slukderm en pankreas kan verminder.

Twee groepe mense sal tot vyf jaar lank op die eerste dag van elke maand ’n vitamien D-pil of ’n plasebo drink. Hulle sal nie weet watter pil hulle tydens die ondersoek drink nie. Rachel sal waarneem of dié pil ’n mens se risiko vir gesondheidstoestande soos kanker, hartsiekte of infeksies verander.

In haar vorige ondersoeke van honderde mense het Rachel hoë UV-blootstelling in verband gebring met ’n 30 persent kleiner kans op eierstokkanker en ’n 40 persent kleiner kans op slukdermkanker.

“Ons beloof nie plegtig dis beslis waar nie. In sulke epidemiologiese ondersoeke is ons altyd baie versigtig om die vinger na ’n moontlike oorsaak te wys, maar ons sien wel ’n verband tussen UV-blootstelling en party kankers,” sê sy.

© Cover Media