Dis lank reeds bekend bisfenol A (op verpakking aangedui as BPA), wat in sekere plastiekprodukte en die voering van sommige kosblikke gevind word, kan bevrugting en die vashegting van die bevrugte eier aan die baarmoederwand omverwerp en estrogeen in die liggaam naboots.

Nou het navorsers aan die Universiteit van Harvard tot die slotsom gekom sojaryke kos kan dié effek van BPA teenwerk.

“Ons het eintlik hierdie soort resultate verwag,” het die hoofopsteller van die studie, dr. Jorge Chavarro van Harvard, aan Reuters gesê.

Lees ook: Sjokolade ‘kan heilsaam wees tydens swangerskap’

Jorge se span het dié studie gegrond op inligting uit ’n vorige eksperiment met knaagdiere.

Dit het gewys soja kan die uitwerking van BPA stopsit of verminder.

“Ons wou nog navorsing doen na aanleiding van die resultate van twee afsonderlike eksperimente met muise. Die skadelike uitwerking van BPA op voortplanting is teengewerk toe die muise ’n sojaryke dieet gevolg het. Ons wou kyk of dit by mense ook sal gebeur.”

Tweehonderd nege en dertig vroue wat tussen 2007 en 2012 in vitro-bevrugting ondergaan het, het aan die studie deelgeneem.

Hul dieet, wat hul inname van 15 sojaprodukte ingesluit het, is bekyk, en elkeen het ook ’n urienmonster verskaf voor eierherwinning vir elke vrugbaarheidsiklus.

Lees ook: Swanger vroue ‘mag nou saggekookte eiers eet’

Byna 75 persent van die vroue het die een of ander sojaproduk (insluitend tofoe, sojaburgers en misosop) ingeneem. Hul inname het gewissel van minder as een keer per maand tot twee keer per dag.

Daar is bevind vroue wat soja geëet het se vrugbaarheidsresultate is nie beïnvloed nie omdat die BPA-vlak in hul urine verhoog het.

By dié wat nie sojaprodukte geëet het nie was die BPA-vlak in hul urine wel hoër, maar die voorkoms van inplanting, kliniese swangerskap en lewende geboorte was minder.

“Ons moet nog bepaal of dieselfde geld vir pare wat sonder mediese hulp probeer swanger raak het, en of die risiko’s ook strek tot by die gesondheid van kinders,” het Jorge gesê.

© Cover Media