Dr. Joel Kahn, ’n kardioloog, het ’n artikel vir mindbodygreen.com geskryf om die verskillende sensasies te verduidelik. Die term palpitasie stam van die Latynse woord palpare, wat “ligte tik” beteken. Die hart klop rustend tussen 50 en 90 keer per minuut, wat as die sinus-ritme bekendstaan – dit is die doeltreffendste manier om bloed in die liggaam te vervoer.

Wanneer die ritme ongereeld word, kan dit gebeur omdat die bopunt van die hart te vroeg klop (wat as voortydige atriale kontraksie bekendstaan), of omdat die onderste helfte dieselfde doen (wat as voortydige ventrikulêre kontraksie bekendstaan).

“Dit kan een maal voorkom en ’n dowwe slag in die borskas veroorsaak, maar dit kan ook verskeie male of in ’n reeks voorkom, wat atriale of ventrikulêre tagikardie genoem word. Dit kan ’n aanduiding van ’n ernstige onderliggende probleem wees,” verduidelik hy.

“Nog ’n algemene probleem wat ek teëkom, is wanneer die bokant van die hart alle organisasie van ritme en trilling verloor (party sê dit fibrilleer soos ’n sak wurms), wat atriumfibrillasie veroorsaak. Dit is so algemeen dat dit my hospitaal- en kantoorpraktyk oorheers.”

Hy het leser gerusgestel dat almal êrens in hul lewe so ’n hartklopping ervaar, selfs die gesondste mens. Maar dit is belangrik dat jy met herhalende gevalle jou en jou familielede se mediese geskiedenis in ag neem. As jy ander simptome soos duiseligheid, kortasemrigheid of floutes ervaar, is dit besliste tekens dat jy ’n dokter moet spreek.

Ly jy aan hoë bloeddruk of het ’n geskiedenis van ’n ooraktiewe skildklier? Dit is net twee van die redes agter die probleem. Oorsake soos te veel koffie, stres en party medikasies (soos asmapompies) kan ook ’n ongereelde hartklop veroorsaak.

Jy kan jou hart help deur ekstra kalium en magnesium by jou dieet in te sluit deur baie plante en groente te eet. Vermy stimulante en vestig ’n gereelde slaappatroon. Jy kan aan aktiwiteite soos joga deelneem om jou te kalmeer.

© Cover Media