Die navorsing is voorgelê by ’n samekoms van die Amerikaanse vereniging vir mikrobiologie oor aansteeklike siektes. In die studie het wetenskaplikes ’n skadelose kiem op ’n deurknop in ’n kantoor geplant wat soortgelyk is aan die norovirus, wat kwaai diarree veroorsaak.

Ná twee uur was 60 persent van die mense in die kantoor met die virus besmet.

Die navorsers het elke twee uur tussen 60 en 100 oppervlakke getoets wat die infeksie kan dra, byvoorbeeld ligskakelaars, krane, rekenaars, knoppies in ’n hysbak en ’n ketel. Hierdie oppervlakke word formiete genoem.

“Die resultate het getoon virale besmetting van formiete in fasiliteite gebeur vinnig, en dat ’n eenvoudige intervensie blootstelling aan virusse kan help verminder,” het dr. Charles Gerba gesê. Hy het die bevindinge voorgelê en het bygevoeg antibakteriese lappies blyk die beste oplossing te wees.

“Die gebruik van ontsmettende lappies met kwaternêre ammoniumverbindings, wat deur die Environmental Protection Agency geregistreer is as doeltreffend teen virusse – soos die norovirus en griep – tesame met handhigiëne, het virusverspreiding met tussen 80 en 99 persent verminder.”

In teenstelling met wat baie glo, is dit nie hoes en nies wat die grootste probleem is nie; dit is kontak met besmette formiete. As jy al die oppervlakke bymekaartel wat jy in ’n dag aanraak, kan dit honderde of selfs duisende wees. Al gebruik jy net dieselfde telefoon van ’n siek kollega of tel net hul koffiebeker op, kan jy met hul kieme besmet word.

Die sleutel is ook om verstandig te wees – was jou hande elke keer dat jy die badkamer of kombuis gebruik en hou handreiniger byderhand. Maak ook jou lessenaar gereeld met antibakteriese lappies skoon. En as jy siek is, oorweeg dit om ’n dag af te vat of van die huis af te werk – jy wil immers nie die hele kantoor aansteek nie!

© Cover Media