Ná ’n woeste dag is dit nie ongewoon om jou met ’n sjokoladestafie of wegneemete te bederf om net te ontspan nie. Maar selfs sonder hierdie lekkernye is daar ’n gevaar dat die vetjies kan aanpak, want spanning aktiveer ’n vetgenererende sel bekend as Adamts1.

Die oortollige vet kan dan om organe soos die pankreas en lewer draai en die kans vir hartsiektes en tipe 2-diabetes verhoog.

Die mediese skool aan die Stanford-universiteit het navorsing bekyk wat in 2015 deur die University College London gedoen is. Dit toon ’n verband tussen ’n veeleisende loopbaan en gewigstoename.

Die rede? ’n Stresvolle werkplek het tot ’n ongesonde dieet gelei en mense in dié omstandighede is 20 persent meer geneig tot vetsug. Dié wat weens swak eetgewoontes gewig aangesit het, het ook meer volwasse selle in hul ingewandsvetweefsel gehad.

Al is dit dalk nie so sigbaar nie, is dit nadelig vir ’n mens se gesondheid. En al sluit Stanford se bevindings nie die kans vir ander onbekende hormone in die ontwikkeling van die selle uit nie, glo deskundiges Admants1 is die vernaamste sneller.

Dit beteken stres, tesame met die feit dat jy reeds oorgewig is, hoogs waarskynlik veroorsaak dat jou liggaam meer selle sal vervaardig.

“Ons dink die liggaam sien dit as ’n teken dat swaar tye voorlê. Dis ’n sneller om soveel moontlik beskikbare energie op te gaar,” sê dr. Brian Feldman, senior verslaggewende skrywer.

“Die een of ander sein sê jou liggaam aan om nog vet te vervaardig. Ons het nie geweet wat daardie proses in die liggaam beperk of bevorder nie. Hierdie nuwe navorsing help baie om die stappe tussenin te vul.”

Die bevindings is in Science Signalling gepubliseer.

© Cover Media