Navorsers het ontdek ’n dieet wat baie vette bevat, verhoog die risiko vir ingewandskanker omdat dit selle in die derm laat verander.

In navorsing van die afgelope dekade is bevind ’n hoëvet-hoëkilojouledieet hou ’n hoë risiko in vir die ontwikkeling van verskeie soorte kanker.

In ’n nuwe studie deur die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in Amerika is nou bevind ’n hoëvetdieet veroorsaak dat die selle van die ingewande se voering meer geneig is om kankeragtig te word.

Volgens die navorsers genereer hierdie soort dieet ’n poel van ander selle wat optree soos stamselle wat hulself dan onbepaald kan vermeerder.

Ingewandskanker is een van die algemeenste soorte kanker wat in die VK gediagnoseer word en daar is elke jaar rondom 40 000 nuwe gevalle.

Sowat een uit elke 20 mense in die VK sal ingewandskanker in hul leeftyd ontwikkel.

Lees ook: Weer beroertes af met hierdie kos

Prof. Omer Yilmaz, die spanleier, het verduidelik dat die navorsers gesonde muise vir nege tot 12 maande ’n dieet van 60 persent vet gevoer het om ’n moontlike skakel te ondersoek tussen hierdie stamselle en kanker wat aan vetsug gekoppel word.

Die vetinhoud van hierdie dieet is aansienlik hoër as die tipiese een in Amerika, wat gewoonlik 20 tot 40 persent vet bevat.

In hierdie tydperk het die muise op die hoëvetdieet 30 tot 50 persent meer liggaamsmassa aangesit as dié wat ’n gewone dieet gevolg het, en hulle het meer gewasse in die ingewande ontwikkel.

Die navorsers het ontdek noemenswaardige veranderings het in die inwendige stamselle van hierdie muise voorgekom.

Hulle het eerstens bevind dat die knaagdiere op ’n hoëvetdieet meer stamselle in hul ingewande gehad het as die muise op ’n gewone dieet. Hierdie stamselle kon ook sonder enige hulp van buurselle funksioneer.

Stamselle word gewoonlik omring deur ondersteunende of “nis”-selle wat stamselaktiwiteite reguleer en aan hulle oordra om stamselle of gedifferensieerde selle te genereer.

Lees ook: Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet

Die stamselle van muise op ’n hoëvetdieet kon egter meer selfstandig funksioneer; wanneer hulle uit die muise verwyder is en in ’n kweekbak sonder hul nisselle geteel is, het hulle baie makliker “mini-ingewande” ontwikkel as die stamselle uit die ingewande van muise op ’n gewone dieet.

Omer se laboratorium doen nou verder navorsing oor hoe dit gebeur in die hoop dat kankermedisyne dalk ontwikkel kan word vir gewasse wat weens vetsug voorkom.

“ ’n Hoëvetdieet verander nie net die biologie van stamselle nie; dit verander ook die biologie van nie-stamselbevolkings, wat kollektief lei tot ’n toename in die vorming van gewasse,” het hy gesê.

Navorsers het bygevoeg die studie bied op oortuigende wyse ’n moontlike verduideliking vir die meganisme waardeur ’n hoëvetdieet bydra tot kanker.

Die studie is die eerste keer in die tydskrif Nature gepubliseer.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Jy sal nie glo hoekom hierdie tweejarige die polisie se noodnommer geskakel het nie!

Sharon Osbourne het Ozzy TWEE keer met kinderoppassers in die bed gevang

OJ-moordraaisel verdiep ná moontlike moordmes opgegrawe word

‘Net met die Here se hulp en gebede sal hy dit finaal oorwin’ sê sesjarige kankerlyer se ma

SLC: nuwe naam, nuwe dinamika