’n Onlangse verslag deur The Lancet se kommissie oor demensievoorkoming, -ingryping en -sorg van het nege faktore aangetoon wat die voorkoms van demensie drasties kan verlaag.

Mense kan van kleintyd af die risiko verlaag deur tot op minstens 15-jarige ouderdom skoolopleiding te kry. Dit is een van die nege maniere om jou kanse te verminder vir die ontwikkeling van hierdie groep afwykings wat kognitiewe funksie belemmer.

Die behandeling van gehoorverlies in die middeljare is boaan die lys, met ’n verlaagde risiko van nege persent in die groottotaal van diagnoses van demensie. In die tweede plek is opvoeding, wat volgens die deskundiges die voorkoms met agt persent kan verlaag. 

As mense ouer as 65 jaar ophou rook, behandeling kry vir depressie en hulle aktief bly, is die risiko onderskeidelik vyf, vier en drie persent laer.

As jy ’n einde maak aan eensaamheid deur sosiale afsondering stop te sit en hoë bloeddruk onder beheer kry, sal gevalle met twee persent daal.

Laastens, met een persent, is vetsug en die voorkoming van diabetes op jou oudag.

“Daar is baie dinge wat mense kan doen en daar is baie dinge wat openbare gesondheid en beleidmaking kan doen om die getal mense te verminder wat demensie opdoen,” is die mening van Gill Livingston, medeskryfster en professor in die sielkunde van ouer mense aan die Londense Universiteitskollege."

“Mense is geneig om te dink hulle kan niks omtrent demensie doen nie, maar daar is tog iets,” het die medeskrywer prof. Clive Ballard, bygevoeg.

“Ons het reeds in die afgelope dekade getoon dat beter behandeling van gesondheidsrisiko’s in die middeljare tóg ’n verskil maak. As minstens ’n derde van die faktore moontlik verander kan word, is daar wel dinge wat ons almal kan doen.”

Die verslag is in die mediese tydskrif The Lancet gepubliseer.