Die verwagtings wat jy van sport of oefening koester, het ’n groot invloed op hoe moeilik of lekker dit vir jou is, het navorsers aan die Universiteit van Freiburg in Duitsland bevind.

Hulle het 78 mans en vroue, tussen 18 en 32 jaar oud, lukraak gekies vir ’n studie en hulle aangesê om ’n moulose, noupassende hemp (“compression shirt”), gemaak deur ’n ”welbekende vervaardiger van sportdrag”, aan te trek. Elke deelnemer moes ook sê hoe sportief hy of sy is.

Net voordat die deelnemers 30 minute lank teen ’n middelmatige intensiteit op ’n stilstaande fiets moes ry, is hulle in groepe verdeel. Kort rolprente wat die voordele óf die nadele van fietsry en die dra van ’n noupassende hemp beklemtoon, is toe aan die onderskeie groepe vertoon voordat hulle begin trap.

Elke vyf minute is fietsryers gevra watter vlak van inspanning hulle ondervind en hoe hulle die oefening evalueer.

Hendrik Mothes, die hoofskrywer en sielkundige, en sy span het bevind die deelnemers wat ingelig is oor die voordele van fietsry en die spesiale hemp, het die toets as minder inspannend beskryf. Net so het diegene wat hulself as meer atleties beskou, die oefening meer geniet en dit as makliker ervaar.

Jou selfbeeld en jou houding teenoor oefening speel dus ’n groot rol by die inspanning wat jy waarneem. Net so lyk dit asof dit slim kan wees om die hulp van sogenaamde nuttige sportprodukte in te roep indien jy daarin glo.

“Net die oortuiging dat die hemp sou help, het die ‘onsportiewe’ deelnemers gehelp om die oefening as minder inspannend te ervaar,” het Mothes verduidelik.

Volgens die navorsers is die resultate ook ’n aanduiding dat die plasebo-effek inderdaad geld wanneer mense sport doen.

Die volledige resultate van die studie is in die tydskrif PLOS ONE gepubliseer.