Ons praat ongelukkig nie van die pyn wat jy voel wanneer ’n kêrel of meisie jou in die steek gelaat het nie – ons weet tog dat ’n bak roomys en ’n klompie tranetrekkerrolprente vinnig hiermee sal klaarspeel.

Dit is wel die verskynsel wat bekendstaan as takotsubo-kardiomiopatie (of stres-kardiomiopatie), waarna in die studie gekyk is. Dit word ook die gebrokehartsindroom genoem en word jare lank reeds beskou as die rede waarom ouer paartjies binne weke ná mekaar sterf.

Navorsers, wie se bevindings in die American Journal of Cardiology gepubliseer is, meen nou dat eenvoudige dinge, soos joga en meditasie, dit wat in die hart gebeur, kan stopsit deur die liggaam te kalmeer.

Lees ook: Lang mans + kort vroue = gelukkige huwelike

Daar word beweer dat die sindroom veroorsaak word deur adrenalien wat die hart oorweldig. Lyers vrees dikwels dat hulle besig is om ’n hartaanval te kry, aangesien hulle ’n gehamer in hul borskas en pyn ervaar, en hulle swaar asemhaal – alles simptome wat met adrenalien verband hou.

Veral vroue bo 60 word geraak, en emosionele en liggaamlike stres is dikwels die wortel van die kwaad. Dit is waarom die verlies van ’n geliefde ’n gebeurtenis kan aanwakker wat fataal kan wees as dit intense skade aan die hart doen.

Voorheen is pille voorgeskryf om die adrenalien te beheer, maar dit het nie altyd gewerk nie. Dr. Harmony Reynpolds, ’n kardioloog, het ’n studie gelei en die sindroom aan die parasimpatiese senuweestelsel – die deel van die liggaam wat dit kalmeer – gekoppel.

Twintig vroue het deel gevorm van die navorsing. Tien het aan gebrokehartsindroom gely. Hulle het toetse ondergaan wat veronderstel was om stres by hulle te veroorsaak.

Dit het die versoek ingesluit om openlik te praat oor die oorsaak van hul eerste toeval. Terwyl hulle gepraat het, het hul bloeddruk begin styg en daar is bevind dat hul hartklop gesukkel het om te bedaar.

Daarom sal joga en diep asemhaling kan help om die toestand te beveg, aangesien dit uitstekend werk vir mense met kwaai angstigheid.

Lees ook: Joga kan die pyn van artritis verlig

Jy hoef ook nie geld uit te gee om die voordele te geniet nie, aangesien daar baie gratis meditasie-apps is wat jou leer hoe om diep asem te haal en die stres te laat gaan.

© Cover Media