As jy nie gelukkig genoeg is om 'n lekker lugverkoelingstelsel in jou huis te hê nie – of dalk te skrikkerig is vir daardie Eskom-rekening aan die einde van die maand as jy die lugversorging te veel laat hardloop – het ons nét die oplossing.

Ons het ons Facebook-gemeenskap gevra hoe bly hulle koel gedurende die hittegolf wat die land die afgelope paar dae in sy wurggreep het.

  • Yolandi Harmse vertel sy is ’n mamma wat tuisbly, en al manier hoe sy en haar dogtertjie kan koel bly is om sommer in hul onderklere of bikini in die huis rond te loop! "Niemand sien my nie, so dis heel in die haak," vertel sy. Sy voeg ook by dat sy elke dan en wan deur die swembad spring en so bietjie afkoel.
  • Maar almal is dalk nie so gelukkig om ’n swembad by hul huis te hê nie. Gelukkig het Ronelle Nel ’n wonderlike vriendin wie se vyfjarige seun haar die idee gegee het om ’n handdoek effe klam te maak en te vries. "Goeiste, dit werk soos 'n droom!" vertel sy opgewonde. Plaas die hardgevriesde handdoek om jou nek en geniet die koue lafenis.
  • Tog al het jy dalk nie die geld – of plek – vir ’n ingeboude swembad nie, kan jy altyd Lezaan van Rooyen se raad volg en sommer ’n klein opblaaswembadjie gaan koop. "Ek gaan nou heel week daarin lê," lag sy.
  • Rina Coetzee meen die beste manier om koel te bly is om jouself gereeld met ’n spuitbottel nat te spuit, ’n nat waslap om jou nek te dra en net koue storte te neem. "Die geiser is al vir drie dae afgeskakel," vertel sy. Chantal van der Mescht se man het dieselfde gedagte. "My man het nou net weer uit ’n koue stort geklim en gaan koel elke 30 minute so af," sê sy.
  • Maggie Fleuriot meen sy het die oplossing oor hoe om koel te bly: "Hou jou hande en voete koud; jou liggaam reguleer jou temperatuur so." En hoe kry sy dit reg? "Vries 500 ml koeldrankbottels driekwart vol water en gebruik dit om jou nekpols koel te hou."
  • Party lesers kom ook met die wonderlikste idees vorendag om hul hele huis koel te hou. Almal ken die truuk om jou gordyne dig toe te maak om die hitte buite te hou, maar Martie Bold se oulike man het sommer met ’n blink plan vorendag gekom om hul huis nog meer af te koel. "My man het ’n lekker groot dakwaaier ingesit asook spreiers op die dak. So elke nou en dan draai jy net die kraan oop en die dak word heerlik koud en die waaier waai die lekker koel luggie rond. Binne minute voel dit of jy lugverkoeling aangeskakel het."
  • Baie van ons sukkel ook om te slaap as dit so vreeslik warm is. Thandi Nomngcayi se raad? "Plaas yskoue gevriesde waterbottels reeds vroegdag in jou bed, as jy gaan slaap haal dit uit." Sy meen dit laat jou bed lekker yskoud.
  • Mense is ook dikwels geneig om op sulke warm dae van hul viervoetige vriende te vergeet. Annelie Kearney se raad is om ’n gevriesde 2L-koeldrankbottel in jou hond se waterbak te plaas sodat hulle ook ’n koel lafenis kan ervaar.
  • En as niks hiervan werk om jou koel te hou nie, is Nicolize Valsangiacomo se raad eenvoudig: "Haas jou na jou naaste winkelsentrum waar daar lekker lugverkoeling is!"

Lees ook:

Suid-Afrikaners gaan heel week sweet

Oorleef so die versengende hitte