Min naggewoontes is so irriterend soos snork, soos jy sal weet as jou maat balke saag terwyl jy probeer slaap. Dit is amper onmoontlik om nie weens die gedurige geraas geïrriteerd te raak nie, wat op sy beste tot ’n swak nagrus lei en op sy slegste tot ’n kneusplek van ’n skop teen die skeen.

Maar eintlik is dit dalk nie die aakligste nadeel nie. Daar is vasgestel mense met slaapapnee verouder verstandelik sowat 10 jaar vroeër as mense daarsonder. Slaapapnee is ’n probleem met die wande van die keel tydens slaap; dit ontspan en vernou, wat met asemhaling kan inmeng en harde snorkgeluide is dikwels een van die waarskuwingstekens.

Daar is vasgestel mense met slaapapnee verouder verstandelik sowat 10 jaar vroeër as mense daarsonder.

’n Span Amerikaanse navorsers het 2 470 mense tussen 55 en 90 jaar waargeneem. Nadat hulle hul mediese geskiedenis bestudeer het, is bevind die mense wat probleme met hul asemhaling het terwyl hulle slaap, begin op 77 matige kognitiewe agteruitgang ervaar. Daarenteen het die mense sonder sulke probleme eers op 90 enigiets ongunstig begin bespeur.

Diegene met slaapprobleme het ook vyf jaar vroeër as die ander groep Alzheimersiekte begin ontwikkel.

Maar daar is ook goeie nuus. Met die gebruik van ’n spesiale masker, wat dikwels vir mense met slaapapnee voorgeskryf word, kan sake verbeter.

“Die begin-ouderdom van matige kognitiewe agteruitgang vir mense wie se asemhalingsprobleme behandel is, was amper eenders as dié van mense wat geen asemhalingsprobleme gehad het nie,” sê dr. Ricardo Osorio, van die Universiteit van New York, in die bevindings wat in die vaktydskrif Neurology gepubliseer is.

“Gegewe dat so baie ouer volwassenes slaapasemhalingsprobleme het, is die resultate opwindend. Ons moet ondersoek of die gebruik van (die masjien) moontlik geheue- en denkprobleme kan help voorkom of vertraag.”

Tans weet die span nie hoekom snork en geheueprobleme met mekaar verband hou nie, maar daar is al vermoed die onderbreking van slaap kan die probleem wees.

© Cover Media