Dit kan nou wel ’n uitstelslenter wees (selfs opruimwerk kan, ná alles, meer aantreklik lyk as studeer), maar 'n netjiese slaapkamer het sy voordele. Volgens onlangse navorsing is dit van uiterste belang as jy 'n goeie nagrus wil geniet.

Volgens navosing by die St Lawrence University in New York, wat in die tydskrif Sleep gepubliseer is, rapporteer opgaarders wat gemors om hulle laat ophoop, baie meer dikwels slaapprobleme as mense wat netjieser is. Slordiger mense het oor die algemeen langer geneem om aan die slaap te raak en hulle slaap is meer kere versteur. Dit beteken dat hulle gedurende die dag meer lusteloos gevoel het.

"Opgaarders het, kenmerkend volgens hulle, meer probleme met besluitneming en uitvoering van take; dit is bekend dat slegte slaap oor die algemeen bewussyn kompromitteer,” het Dr Pamela Thatcher verduidelik.

"As opgaarders dus deurmekaar of onbruikbare kamers het, en boonop nog op minder gemaklike, doelmatige beddens moet slaap, kan enige risiko op kognitiewe disfunksie, depressie en stres toeneem soos wat die gehalte van slaap versleg."

As jy bekommerd is dat jy miskien as ’n opgaarder beskou kan word, is daar 'n paar eenvoudige maniere waarop jy kan begin om jou omgewing, en hopelik terselfdertyd sommer jou gedagtes ook, te orden.

Word onverskrokke en skenk enigiets wat jy die afgelope drie maande nie gedra of gebruik het nie, aan liefdadigheid. Moenie tyd mors deur te wonder of die “regte geleentheid" sal opdaag nie, maar prop dit eenvoudig in die swart vullissak.

As jy aan klein, sentimele geskenke en briefies vasklou, skep 'n spesiaal toegewyde plek vir hulle. Dit kan 'n aandenkingshouer wees wat jy onder jou bed bêre of 'n aansteekbord waaraan jy al daardie briewe, kaartjies en foto’s kan vassteek.

Jy kan ook van netheid 'n gewoonte maak deur middel van daaglikse rituele. Jy kan byvoorbeeld jou skoene uittrek en hulle in die portaal neersit wanneer jy tuiskom. Hulle sal dan nie later onder die rusbank ingeskop word nie. Wanneer jy jou saans uittrek, vou die klere wat nog skoon is op en pak dit weg terwyl jy jou uitrusting vir die volgende dag uitsit. Jy sal gougou hierdie dingetjies as só normaal beskou dat jy nie eens sal agterkom dat jy dit doen nie.

© Cover Media