Daar is ’n klompie gesondheidsopvattings waaraan baie van ons vasklou, soos dat ’n mens met alles matigheid voor oë moet hou en dat rooiwyn goed is vir jou.

Jammer vir dié wat hou van ’n gereelde sopie, maar dit lyk asof die riglyne herskryf gaan word.

Ons word al jare lank aangeraai om rooiwyn te drink om die risiko vir kanker en hartsiektes te verlaag, en dit is ook in verband gebring met die handhawing van ’n gesonde gewig.

Maar The Sun, ’n Britse poniekoerant, berig dat nuwe bepalings vandeesweek (vanaf 4 Januarie) uitgereik gaan word wat beweer dat ’n groot deel hiervan onwaar is.

Die verslag is blykbaar ingedien deur die hoof mediese beampte, dame Sally Davies, en dit is gepubliseer weens vrese dat party mense hulle te buite gaan aan rooiwyn, want hulle glo dat dit gesond is.

Dit is ook nie net diegene wat die drankie geniet, wat ’n groot skok gaan kry nie. Daar sal nuwe riglyne wees wat, volgens die verslag, konstateer dat mans dieselfde hoeveelheid moet drink as vroue, en almal word aangeraai om minstens twee alkoholvrye dae per week te hê.

Mans word tans wysgemaak hulle kan elke week 21 eenhede – of 4 L lagerbier met ’n hoë alkoholinhoud – geniet, terwyl vroue 14 kan drink, die ekwivalent van net meer as vier groot glase wyn.

“Die verslag sal ’n duidelike boodskap oordra dat die gevare van drank baie groter is as wat vroeër gedink is,” het ’n ingeligte aan The Sun gesê.

Die riglyne word na bewering wetenskaplik gesteun en hulle merk die eerste keer in 20 jaar dat en enige verandering aangebring is.

Dis laas in 1995 bygewerk en toe is daar geglo dat klein hoeveelhede drank die risiko vir hartsiektes kan verlaag, maar daar word nou gemeen dat gereelde inname van drank in werklikheid skadelik kan wees vir die gesondheid.

Die kundiges voel blykbaar dat gereelde oefensessies en die noukeurige volg ’n gebalanseerde dieet net soveel voordele kan inhou.

Hierdie nuus kom nadat ’n onlangse opname getoon het dat baie mense nie besef hoeveel alkohol wyn bevat nie.

Amerikaanse navorsers het 127 000 wyne getoets en bevind dat die werklike alkoholinhoud by 60 persent van hulle hoër was as wat op die etiket aangedui is – met Chileense, Argentynse en Spaanse rooiwyn die grootste sondaars.

© Cover Media