In onlangse navorsing is bevind genoeg slaap verdubbel jou kanse om dinge te onthou waarskynlik omdat dit jou herinneringe toegankliker maak, wat jou vermoë verbeter om selfs ook die dinge te onthou wat jy al heeltemal vergeet het.

’n Span van die Universiteit van Exeter in Engeland het ’n groep mense ’n klompie saamgeflanste woorde gegee om te memoriseer. Dié wat gevra is om ná ’n goeie nagrus die woorde te herroep, het baie beter gevaar as dié wat dit ná 12 uur sonder slaap moes doen.

“Slaap verdubbel feitlik jou kanse om gegewens te onthou wat jy nog nie voorheen opgeroep het nie,“ het dr Nicolas Dumay, ’n sielkundige, verduidelik.

“Die verhoogde toeganklikheid tot die geheue nadat jy geslaap het, kan aandui dat sommige herinneringe oornag verskerp word.

“Dit steun die opvatting dat ons in ons slaap daardie inligting aktief herhaal wat ons as belangrik beskou.

“Nog navorsing moet gedoen word oor die bruikbare betekenis van hierdie oefening en of dit byvoorbeeld die geheue in staat stel om in ’n wyer reeks kontekste beskikbaar te wees en dit dus nuttiger te maak.”

Die navorsingstuk, wat in die tydskrif Cortex gepubliseer is, kan veral van betekenis wees vir studente omdat daarin gesuggereer word dat dit ’n groot uitwerking op die mate van jou sukses kan hê as jy die aand vantevore hard studeer.

Die navorsers weet nog die heeltemal wat die rede vir die versterking van die geheue is nie, maar hulle dink slaap help om herinneringe wat pas geskep is, te ontsluit en hulle te laat terugspeel in die deel van die brein wat hulle aanvanklik geskep het.

As jy ander maniere soek om jou brein te stimuleer, is dit ’n goeie plan om ’n slag weer te dink oor wat jy eet. Kos soos volgraanprodukte, olierige vis, bloubessies en tamaties word as gesonde keuses beskou omdat dit die vermoë om te onthou verbeter.

© Cover Media