Volgens navorsers het ons liggaam algehele donkerte nodig om die regte vlakke van ’n hormoon te vervaardig wat die omskakeling van kos en drank in energie reguleer. Maar tesame met die dowwe lig van straatlampe, is daar bevind dat kort-golflengte blou lig, wat party toestelle uitstraal wanneer hul battery herlaai, slaap versteur; gevolglik word ons metabolisme ook geraak.

Kenners van die Universiteit van Manchester in die Verenigde Koninkryk ondersoek hoe die regulering van slaappatrone pasiënte kan help wat reeds diabetes het, ’n siekte wat dikwels met vetsug vereenselwig word.

“Ons stel belang in hoe ’n verandering in die slaap-wakker-patroon dalk betrokke is by die aanvang van diabetes en, wanneer jy die tydsberekening van slaap verbeter, of jy ook ’n positiewe uitwerking op toestande soos diabetes en vetsug kan hê,” sê dr. Simon Kyle, ’n slaapnavorser aan die universiteit.

“Daar is baie navorsing wat toon dat ons veronderstel is om snags te slaap wanneer dit donker is. Melatonien-vlakke styg dan, en wanneer die son opkom, blokkeer dit die melatonien. Hierdie lig-donker-siklus is goed vir ons liggaam om veranderinge in die omgewing te voorspel.

“As jy dus minder begin slaap of laatnag op die verkeerde tyd lig ontvang, ontwrig dit melatonien-afskeiding en dit kan lei tot veranderings in metabolisme.”

Hy het bygevoeg dat blou lig wat elektroniese toestelle uitstraal, die skadelikste is omdat dit die brein aan die gang hou. Dr. Kyle stel voor dat mense slimfone, tablette en rekenaars ’n paar uur voor slaaptyd afskakel om blootstelling aan kunsmatige lig te verminder.

“Daar is sterk basiese wetenskap en data wat die verwantskap toon tussen slaapsteuring en siekte,” het hy bygevoeg. “As jy saans algehele donkerte kan hê, sal jy dalk die pre-industriële tydperk kan namaak en die vetsug-epidemie kan probeer aanpak.”

© Cover Media