Brittanje se agentskap vir voedselstandaarde (FSA) het ’n studie onderneem oor die gebruik van vrieskaste, waarvan die uitslae as deel van Voedselveiligheidsweek (4-10 Julie) uitgereik is en waarin ’n aantal mites oor bevriesing uitgeken is.

Volgens die agentskap het 43 persent van die mense met wie onderhoude gevoer is, gemeen om veilig te wees, moet voedsel net op die dag waarop dit gekoop is, bevries word; 38 persent het verkeerdelik gesê dit is gevaarlik om vleis weer te bevries nadat dit gaargemaak is en 36 persent het verkeerdelik geglo voedsel kan, terwyl dit in die vrieskas is, onveilig raak om geëet te word.

Lees ook: Weer beroertes af met hierdie kos

Steve Wearne, beleidsdirekteur by die FSA, sê daar word elke jaar meer as 7 miljoen t voedsel en drinkgoed by ons huise weggegooi.

“Die vrieskas is soos ’n wagknoppie; dus kan jy voedsel vries tot op die ‘gebruik teen’-datum. Voedsel is wel veilig solank dit in die vrieskas is; dit is die gehalte wat mettertyd afneem. Daarom beveel ons aan dat dit binne drie tot ses maande geëet word en dat mense moet seker maak van enige aanwysings oor bevriesing op die verpakking,” het hy in verklaring gesê.

“Nadat dit ontdooi het, is die wagknoppie afgeskakel; dus moet jy voedsel laat ontdooi soos en wanneer jy dit nodig het en dit eet binne 24 uur nadat dit heeltemal ontdooi het.”

Voorts het meer as twee derdes van die mense wat aan die opname deelgeneem het, die afgelope maand kos weggegooi, met brood, vrugte, groente en oorskietvleis boaan die lys.

Lees ook: Vrou skenk die lewe ná haar embrio vir 18 jaar gevries was

Die mees algemene rede wat aangegee is vir die weggooi van kos, was dat dit verby die “gebruik teen”-datum was, het meer as een derde van die deelnemers aangedui.

Boonop het amper ’n derde erken hulle het kos weggegooi omdat hulle te veel gekoop het en dit nie opgeëet het nie, en meer as die helfte het gesê hulle het skuldig gevoel toe hulle kos weggooi.

Helen White, ’n kenner van voedselvermorsing, het verklaar dat die redes wat aangegee is, almal uitgeskakel kan word as die vrieskas beter gebruik word.

“Elke huishouding in die Verenigde Koninkryk vermors die ekwivalent van ongeveer ses maaltye per week, wat skadelik is vir ons sak sowel as vir die planeet. Ons kan almal kos vries en so ’n groot verskil maak. Die beste van alles is, die meeste kossoorte kan gevries word, selfs dié wat vir jou onmoontlik sou lyk,” het sy gesê.

Die FSA het aangekondig hulle gaan ’n ondersoek onderneem oor die leiding wat aan die voedselnywerheid verskaf word oor die datumstempeling op kos.

© Cover Media