In ’n onlangse ondersoek word beweer mense wat die eerste maaltyd van die dag oorslaan, loop gevaar om ’n ekstra 1 046 kJ in te neem.

Dit is te verstane dat, as jou dag op ’n leë maag begin, jy teen die middel van die oggend honger sal wees – en die gewildste snoeperye op hierdie tydstip is sjokolade, koekies en skyfies, is die aanname wat die navorsers by Breakfast Week maak.

Die kommerwekkende feit is dit kan lei tot ’n gewigstoename van byna 12,7 kg per jaar. ’n Tiende van die 2 000 mense wat aan die ondersoek deelgeneem het, eet glad nie ontbyt op weeksdae nie; dus verkeer baie van ons in gevaar. Meer as ’n derde van die mense het gesê hulle slaan die een of ander tyd gedurende die werkweek ontbyt oor, terwyl amper die helfte van dié wat ontbyt oorgeslaan het, erken het hulle het teen die middel van die oggend honger gevoel. Amper ’n derde het bygevoeg hulle het ’n tekort aan energie gehad. Veertien persent het gesê dit het hulle geïrriteerd gemaak.

’n Gesonde ontbyt kan die toon aangee vir die res van die dag.

Daar is talle redes gegee vir die oorslaan van ontbyt – amper ’n derde het beweer hulle is nie vroeg soggens honger nie, ’n kwart wou langer in die bed bly en sowat ’n tiende het beweer hulle het eenvoudig vergeet om ontbyt te eet.

’n Gesonde ontbyt kan die toon aangee vir die res van die dag. Mense wat ontbyt oorslaan, het ’n 27 persent hoër kans om sjokolade by hul middagete te voeg en hulle sal in alle waarskynlikheid ook ’n drankie byvoeg wat suiker bevat. Die rede hiervoor is dalk dat jou bloedsuikervlakke laag sal wees en jy iets sal soek om jou weer aan die gang te kry.

“Die ekstra 1 054 kJ wat mense volgens ons berekeninge kan inkry wanneer hulle ontbyt oorslaan en ’n stafie sjokolade en ’n 33 g-pakkie skyfies as versnapering kies, kan mettertyd lei tot ’n aansienlike gewigstoename as hulle nie daarvoor vergoed deur aktiewer te wees nie,” het die dieetkundige Azmina Govindji aan MailOnline gesê.

As dit gereeld gebeur en dit word nie teëgewerk deur oefening of deur ander tye van die dag minder te eet nie, kan ekstra kilojoules binne ’n jaar lei tot ’n gewigstoename van 11,7 kg.

Om seker te maak dat jy ’n goeie ontbyt inkry moet jy spesifiek daarvoor tyd inruim. Stel jou wekker 10 minute vroeër en ruim bewustelik tyd in om te gaan sit en iets voedsaams, soos pap of volgraanvlokkies met afgeroomde melk, te geniet.

As jy ’n paar minute langer wil slaap, kan jy gesonde keuses vir ontbyt in die kantoor aanhou en dit by jou lessenaar eet. Hou ook ’n voorraad gesonde werkdaghappies, soos vars vrugte en laevetjogurt, byderhand om die hongerpyne in die middel van die oggend te stil.

© Cover Media