Sit jy uitgeput by jou lessenaar? Wel, jy is beslis nie alleen nie.

Nuwe syfers toon dat byna ? kwart van die Britse volwassenes tussen 30 en 50 jaar oud slegs vyf uur per nag slaap. As jy in gedagte hou dat die aanbevole hoeveelheid slaap vir ons byna agt uur is om doeltreffend te kan funksioneer en dat sleg slaap onder andere gekoppel word aan gesondheidsrisiko’s soos angstigheid en depressie, wil dit voorkom asof baie van ons in gevaar is.

Navorsers van die Universiteit van Leeds het in ’n aanlyn opname vir Silentnight Beds gekyk na 1 024 Britte in die ouderdomsgroep 18 tot 60 jaar. Die resultate het ’n duidelike tekort aan slaap getoon in die ouderdomsgroep 30 tot 50 jaar.

“Minder as vyf uur se slaap word geassosieer met ernstige negatiewe gesondheidsgevolge, waaronder kardiovaskulêre probleme, vetsug en diabetes,” is die kommentaar van die hoofwetenskaplike, dr. Anna Weighall.

“Die toenemende behoeftes van die moderne samelewing, sosiale media en tegnologie wat daarmee verband hou, kan die gehalte en hoeveelheid slaap beïnvloed en ’n ernstige en nadelige bedreiging vir ons gesondheid inhou.”

Die navorsingstuk is by die konferensie van die Britse Slaapvereniging aangebied. Ander gesondheidsprobleme wat kan opduik weens ’n tekort aan slaap, sluit in: hartsiektes, swakker werkverrigting en verhoogde risiko vir ongelukke.

As jy dus nie genoeg slaap inkry nie, is dit nou die tyd om jou slaaptydroetine te verander.

Verban tegnologie uit die slaapkamer

Dit is ’n onderwerp wat al dikwels onder die loep gekom het, maar een wat moeilik is om uit te voer. Die nagaan van e-posse, sosiale media en teksboodskappe lyk miskien onskadelik, maar slaaptyd is die tyd om te ontspan. Daar is ook bevind dat die blou lig van ons toestelle, veral van die selfone wat naby die bed gehou word as wekkers, slaap onderbreek.

Ontspan

Ons jaag almal tot slapenstyd toe rond om huishoudelike take af te handel, maar dit help jou gemoed nou nie juis om te ontspan nie. Maak tyd vir ontspanning en hou daarby. Oudmodiese slaaphulpmiddels soos ’n warm bad, warm melk en laventel op jou kussing spuit, sal ook jou liggaam help ontspan.

Kies die regte bed

Matrasse behoort elke agt jaar vervang te word, maar dis iets wat mense dikwels nalaat. ’n Matras wat pap is in die middel, vere wat in die verkeerde rigting uitstaan en ’n gekraak heelnag lank help nie ’n vreedsame nagrus aan nie. Matrasse van geheuespons bly steeds een van die gewildste keuses, met Tempur-matrasse nog net so gewild soos altyd. Eve Mattress gebruik geheuespons, maar hulle is effens harder, so dit is gewild vir dié wat ’n minder sagte bed verkies. Die maatskappy gebruik ook latekstegnologie om die liggaam se temperatuur te reguleer terwyl jy insluimer.

© Cover Media