Baie mense het die slegte gewoonte om ekstra sout oor kos te sprinkel, soms selfs nog voor hulle daaraan geproe het.

Die slaggate rakende sout in die dieet, asook ten opsigte van jou gesondheid, is alombekend. Dit veroorsaak waterretensie, hoë bloeddruk en ’n hoër risiko op hartsiektes.

Die jongste bevindings, gepubliseer in die tydskrif Hypertension, het vir die eerste keer ’n verband tussen sout en vetsug vasgestel.

Navorsers aan die Queen Mary-universiteit in Londen het data van 458 kinders en 785 volwassenes van Brittanje se Nasionale Dieet-en-voedingsoorsig 2008/’09 en 2011/’12 onder oë gehad. Urinemonsters is ondersoek en daar is bevind mense wat oorgewig of vetsugtig was, se sout-inhoud in die urine was hoog.

Die studie is gelei deur prof. Graham MacGregor, wat aanvoer die presiese rede waarom sout so ’n groot uitwerking het, is onbekend, maar dis heel moontlik te wyte aan die middelveranderende metabolisme.

“Die hoë sout-, vet- en suikerinhoud wat die voedselbedryf by kosse voeg, veroorsaak dat die kos wat ons eet, die grootste oorsaak is van swak gesondheid,” het Graham, wat ook die voorsitter van Consensus Action on Salt and Health is, gesê.

“Hoë bloeddruk en vetsug lei tot die ontwikkeling van hartvatsiektes, beroerte, hartaanvalle en hartversaking, wat die algemeenste oorsake is van sterftes en ongeskiktheid in Brittanje. Vetsug is ook die voorloper van tipe 2-diabetes, wat die risiko op hartvatsiektes verder verhoog, en dit kan lei tot ernstige komplikasies.

“So ’n epidemie sal die Nasionale Gesondheidsdiens verlam as hierdie dieetverwante probleme nie onmiddellik stopgesit word nie.”

Wanneer jy dus weer instinktief na die soutpot reik, stop!

Die smaaklikheid van voedsel speel ’n belangrike rol in die kookkuns, maar die byvoeging van kruie en speserye, soos knoffelpoeier, rooipeper of rissiepoeier, sal geur en diepte aan jou kos verleen sonder dat dit jou siek maak.

© Cover Media