’n Kind wat in ’n speelterrein rondhol en op swaaie, glybane en wipplanke speel, is waarlik ’n vreugdevolle gesig. Maar nou word ouers gewaarsku om bewus te wees dat so ’n oënskynlik genotvolle ervaring hul kinders leed kan aandoen. Dit is omdat bevind is die verf waarmee baie speelterrein-items bedek word, bevat potensieel gevaarlike vlakke van lood.

[caption id="attachment_115991" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

’n Span wetenskaplikes van die Universiteit van Plymouth het monsters van 47 speelterreine in Devon, Cornwall, Somerset en Hampshire in Brittanje getoets. Party daarvan was minder as ’n dekade oud.

Toe hulle die monsters en die samestelling van die verf ontleed, het hulle bevind baie se lood-inhoud is 40 keer meer as die aanbevole vlakke. Ingevolge wetgewing van 1977 mag verf vir speelterreine nie meer as 0,25 persent lood bevat nie.

Lees ook: Vuil kinders = gelukkige, gesonde kinders

Een van die skokkendste voorbeelde was ’n monster van ’n speelterrein in Plymouth wat in 2009 gebou is. Die wetenskaplikes het bevind dit bevat 10 persent lood.

“Terwyl dit onverstoord en ongeskonde is, is bedekkings en hul chemiese onderdele redelik veilig,” sê die hoofwetenskaplike dr. Andrew Turner.

“Maar wanneer die laag begin agteruitgaan weens skuring of blootstelling aan UV-lig of vog, begin die verf kraak, vlok en verpoeier, en word metaaldraende partikels in die omgewing vrygestel.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie noem lood een van die top-10 “chemikalieë van groot openbaregesondheidskommer”. Kinders wat aan hoë of matige vlakke van lood blootgestel word, kan gesondheidsprobleme soos neurologiese of kognitiewe probleme ervaar.

Lees ook: Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Daar is ook bevind die verf bevat meer as die aanbevole vlakke van ander gevaarlike metale, soos chromium en kadmium.

Andrew raai ouers aan om “waaksaam” te wees wanneer hul kinders op ’n speelterrein is. Hy voeg by kinders moet hul hande was nadat hulle op toerusting gespeel het.

“Party kinders ervaar die wêreld deur goed in hul mond te sit; daarom moet ouers ook daarvoor op die uitkyk wees,” het hy aan BBC News gesê.

© Cover Media