Die Britse organisasie Ovarian Cancer Action (OVA) het die ondersoek van stapel gestuur. Een uit elke ses jong vroue wat ondervra is, het erken hulle het selfs al ’n geskeduleerde afspraak gekanselleer omdat hulle nie kans gesien het vir die verleentheid nie.

Daar is al beweer ouer mense bloos nie so maklik nie, dus is die moontlikheid groter dat hulle eerlik sal wees met die dokter.

Vir die studie is onderhoude gevoer met 1 000 vroue. By die deelnemers tussen 18 en 24 jaar oud was die kans vier keer kleiner dat hulle ’n dokter oor hul seksuele gesondheid sou gaan spreek as by vroue tussen 55 en 64 jaar.

Trouens, twee uit drie van die jonger groep het erken hulle is te skaam om eens die woord “vagina” in die spreekkamer te sê. Hiermee saam het 48 persent aangevoer hulle sou die dokter vermy as hulle dink hulle gaan ondersoek moet word, en 57 persent het gesê hulle google eerder vir raad.

Hoewel geslagsgesondheid ’n groot probleem is, is dit is juis die onderwerp wat jonger mense te skaam is om behoorlik te bespreek. Dit kan weer daartoe lei dat gevaarlike siektes nie gou genoeg gediagnoseer word nie.

“Dis kommerwekkend dat mense lugtig is om ginekologiese sake met ’n dokter te bespreek. Al gebruik baie mense die internet om hulp te kry, is die websoektogte na simptome nie ’n plaasvervanger vir behoorlike mediese aandag nie,” het Katherine Taylor, uitvoerende hoof van OCA, gesê.

“Siektes soos eierstokkanker, wat in die Verenigde Koninkryk elke twee uur ’n lewe eis, kan baie beter behandel word as dit vroegtydig opgespoor word. Dit is dus ongelooflik belangrik dat vroue bemagtig moet voel om hul gesondheid te bespreek en gemaklik moet voel wanneer hulle professionele gesondheidsorgwerkers moet besoek.”

Sy het bygevoeg: “Mense moet hoor jy ken jou liggaam die beste. As jy dus voel iets skort, moet jy ’n afspraak by jou dokter maak. OCA wil veral verseker vroue word nie aan hul eie genade oorgelaat nie. Moenie tou opgooi as jy ontevrede is met die raad wat jy by jou dokter gekry het nie; gaan spreek ’n ander kenner.”

Al kan elke mens self besluit, moet jy enigiets wat jy aanlyn lees, met ’n knippie sout neem. Aangesien elke geval uniek is, kan jy maklik onnodig op hol raak oor dit wat jy op die web sien.

© Cover Media