Enigeen wat al ooit getref is deur die onkeerbare drang om ’n bederfie nader te trek, weet hoe moeilik dit is om nee te sê. Hoewel jy ’n koekie by die kantoor kan laat verbygaan as jy nie lus is daarvoor nie, is nee sê nie ’n opsie as jy so ’n smagting het nie.

Dit voel asof jou hande onwillekeurig in ’n ander rigting beweeg as dié waarin jou brein hulle aansê.

Daar is egter hulp byderhand vir bederfieslawe. ’n Onlangse studie in Australië het bevind die sleutel om ’n smagting in sy spore te stuit, lê in die visualisering van iets anders wanneer die smagting naderkom.

“Ons het gevind kognitiewe diffusie het ’n verlaging veroorsaak by die indringerigheid van gedagtes, skerpheid van verbeelding voor, en intensiteit van smagting by sowel die gewone toetsgroep as by dié wat smag na sjokolade en graag minder daarvan wou eet,” was die bevinding van die hoofnavorser, dr. Sophie Schumacher, van die Flinders-universiteit in Adelaide.

“As jy dié gedagtes takel sodra jy daarvan bewus word – veral as jy nie honger is nie – is dit baie makliker as om te wag tot die smagting sterker word.

“Leer om sulke smagtings in die kiem te smoor – gee jouself ’n konstruktiewe afleiding, soos deur jou te verbeel jy loop in ’n woud – dit kan help om die indringergedagtes onder bedwang te bring en die duidelikheid van die beeld (van sjokolade eet) te laat afneem. Ons het bevind dit is belangrik om die aanvanklike gedagtes van hunkering te teiken voor hulle volbloedsmagtings raak.”

Sophie en haar span het twee groepe vroue bestudeer ten einde tot hul gevolgtrekkings te kom. Die een groep was ’n verskeidenheid van deursneevroue en die ander ’n groep deelnemers wat graag hul smagtings in toom wou hou.

Ná indeling het party van die vroue gebruik gemaak van kognitiewe ontlonting om hul gedagtes te laat wegbeweeg van sjokolade. Die vroue is aangepor om hulle van die smagting te distansieer voor dit ontwikkel.

Die ander groep het, wanneer die hunkering toeslaan, ’n begeleide verbeeldingstegniek gevolg wat hul gedagtes besig hou met die visualisering van iets anders, soos ’n woud of strand.

Hulle het bevind albei tegnieke werk, maar die begeleide verbeeldingsvlug was veral doeltreffend vir die vroue met ’n intense smagting na sjokolade.

© Cover Media