Die liggaam beskik boonop oor ’n proses wat baie nuttig kan wees wat gewigsverlies betref.

“Termogenese is die proses van hitteverskaffing in die mitochondria (energiefabriek) van die liggaam,” het Louise Westra, ’n naturopaat, aan die tydskrif Your Fitness verduidelik. “Die hitte wat dit vervaardig, steek die energie (kilojoules en vette) aan die brand. Die meer spesifieke benaming vir termogenese wat deur die dieet aangespoor word, is die termiese effek van kos (“TEF”). Dit verwys na die hoeveelheid energie wat gebruik word bo ons basale metaboliese tempo (“BMR”) as gevolg van die vertering en absorpsie van voedsel, opgaar van voedingstowwe en die uitskeiding van afvalprodukte.

Hoe help hierdie proses ons met gewigsverlies? Gedurende termogenese word selle verwar sodat dit, pleks van kilojoules uit voedsel in opgegaarde vet te verander, voedsel deur middel van energie in hitte verander en die verhoging in liggaamstemperatuur verbrand sommige kilojoules.

Alle kossoorte sit ongelukkig nie hierdie proses aan die gang nie, dus moet jy op die uitkyk wees vir dié wat dit wel doen. Louise gee groentee die groen lig, aangesien die katechiene wat in die drankie voorkom, ensieme aktiveer wat vette metaboliseer en dit help verbranding aan. Brandrissies is nog ’n goeie keuse, aangesien dit sekere sensoriese neuronreseptore stimuleer. Dit verhoog op hul beurt die liggaamstemperatuur en so word kilojoules verbrand. Ander speserye soos knoffel, borrie en komyn is voordelig, en so ook sitrusvrugte, vis en maer vleis.

As jy dus al hierdie voedselsoorte by jou daaglikse maaltye insluit, sal dit jou help om die kilogramme af te skud.

“Ons moenie wonderwerke verwag nie, maar as jy ’n dieet volg wat vol fitonutriënte is wat die regulering van bloedsuiker en versadiging steun, sal jy goeie resultate kry,” het Louise bygevoeg. “Dit sluit in hoëgehalte-proteïen en plantgegronde voedselsoorte wat laer kilojoulevlakke het, sowel as natuurlike kruie en speserye wat ’n verskeidenheid van metaboliese prosesse steun.”

Vidhi Patel, ’n voedingskundige, stem saam oor ’n termogeniese dieet en stel voor dat jy drie termogeniese voedselsoorte per dag inneem om die beste resultate te kry. En moenie vergeet om, benewens die dieet, ook oefening te doen nie, aangesien reg eet nie jou spiere gaan versterk nie.

© Cover Media