’n Voorste verhoudingspsigoterapeut van Beverly Hills het ’n gids vir beter seks saamgestel wat gemik is op loopbaangerigte vroue, gefrustreerde maats en vroue wat selibaatheid oorweeg. Sy wil daarmee probeer om romanse te laat herleef en paartjies in sekslose verhoudings ’n hupstoot te gee.

Dr. Fran Walfish, skrywer van The Self-Aware Parent en medester van die stomende Amerikaanse reeks Sex Box, wil dit duidelik maak dat niks skort met selibaatheid nie, veral as jy ’n enkellopende vrou met loopbaandoelwitte en professionele drome is nie, maar sy hou vol “seks is ’n gesonde deel van elke verhouding en dis onregverdig en onrealisties om te dink jou maat sal uit eie wil instem tot ’n wedersydse kontrak waarin ooreengekom word dat julle nie seks het nie.”

Fran voeg by: “Vroue kan ’n besluit neem om selibaat te wees en dit kan tydelik wees. Selibate vroue se aandag is minder afgelei; hulle kan meer op hul werk en loopbaan fokus, hulle kan meer op hul kinders en verhoudings fokus . . . want as hulle eers in ’n verhouding betrokke raak, raak baie vroue – meer as mans – erg gefokus op hul behoeftes. Nie elke vrou is so nie, maar talle vroue is wel emosioneel behoeftig.”

Voor jy dus besluit geen seks is die beste seks wanneer ’n romanse afgesaag raak, deel Fran ’n paar liefdeswenke wat hopelik weer die liefdesvuur hoog sal laat brand. Soos die dokter tereg sê: “Seks is ’n noodsaaklikheid in enige gesonde verhouding.”

Sy noem dit Dr. Fran Se Sewe Topwenke vir Beste Seks, maar jy kan dalk voel dit moet eerder die Magnificent Seven heet.

Stuur die kinders na hul kamer toe en lees verder:

  • Sorg altyd dat jy skoon is wanneer jy die slaapkamer betree. Stort gereeld, smeer lyfroom, spuit parfuum (liggies). Dit maak jou nie net aantreklik vir jou maat nie, maar gee jou seksuele selfvertroue ’n hupstoot.
  • Ek is ’n voorstander van oop, eerlike, regstreekse kommunikasie. Maar as dit kom by seks, is baie mense baie sensitief daaroor om gesê te word wat om te doen en hoe om dit te doen. Moet nooit jou maat kritiseer, blameer of veroordeel nie. Prys eerder elke gebaar van jou maat om jou te laat goed voel. Gebruik sexy geluide soos “oe” en “mmm”.
  • Vroue moet vrymoediger voel om te vra dat aan hul seksuele behoeftes en begeertes voldoen word. Mans is beter hiermee as vroue. Dit is al generasies lank ’n kulturele kwessie. Vroue is nou beter daaraan toe as in die 1930’s en ’40’s, maar jy sal verbaas wees hoeveel jong vroue nog nie die selfvertroue het om hul maat te vra om spesifieke goed te doen nie. Baie vroue aanvaar dat mans weet wat hulle wil hê en waarvan hulle hou. Jy gaan nêrens kom as jy aanvaar jou man weet wat jy wil hê nie.
  • Mans moet ook gemakliker raak en praat oor die gereeldheid, spoed en soort seks wat hulle wil hê. Volgens statistieke verneuk mans meer as vroue hul maats. Hulle kyk te vinnig elders as hulle nie kry wat hulle nodig het nie. Kommunikasie is belangrik; maak seker jou man sê vir jou waarvan hy hou.
  • Gebruik jou fantasieë en bly stil! Moenie jou fantasieë met jou maat deel nie. Dis in die haak as jy fantaseer oor seks met die brandweerman, polisieman of sokkerspan; moet net nie jou maat daarvan vertel nie, want dit kan die einde van die romanse beteken.
  • Plaas al jou bekommernisse in ’n boks, sluit dit en los dit buite die slaapkamer! As jy bekommerd is oor die kinders, gaan seks ’n ramp wees. As die aandelemark daal, sal dieselfde met sy ereksie gebeur. Verlos jouself van hierdie dinge om die oomblik te geniet. En moenie seks tot die kamer beperk nie – prikkel jou maat op nuwe maniere en op nuwe plekke: in die kombuis, op die tafel of op die sitkamermat. Kom uit die groef en roetine.
  • Klim in die stort met jou maat en was mekaar. Probeer jou maat prikkel met aanraking, sensasie, die gevoel van die warm water; gebruik rome of olies en lekkerruikmiddels. Die warm water is kalmerend. Dis amper ’n meditatiewe manier om jou liggaam te laat ontspan.

© Cover Media