Brian Wansink, direkteur van die Cornell-kos-en-handelsmerklaboratorium en ’n voorste voedselsielkundige, het onlangs sy jongste boek, Slim by Design, bekendgestel. Daarin beweer hy eenvoudige goed, soos waar jy in ’n restaurant sit, kan jou spyskaartkeuses beïnvloed.

Hy beweer onder meer die mense wat in ’n goed verligte deel van ’n eetplek sit, is meer geneig om gesonde kos te kies. Hy meen daar is ’n verband tussen waar jy sit en of jy nagereg bestel.

Vir sy navorsing het Brian 27 restaurante in Amerika besoek en die uitleg op ’n kaart uiteengesit. Toe versamel hy elke kwitansie vir elke dag oor ’n tydperk van drie maande vir die een plek, en af en toe vir die ander. Uit die kwitansies wou hy sien watter koskeuses mense doen op grond van die ligging van hul tafel (soos deur die tafelnommer bepaal).

Diegene in donkerder dele van die restaurant of in ’n hokkie het gewoonlik swaarder kos en meer daarvan geëet. Diegene wat die verste van die ingang af gesit het, het die minste slaai geëet en het ’n groter kans gehad om nagereg te eet.

Die mense wat binne twee tafels van die kroeg af gesit het, het die meeste gedrink. Hulle het gemiddeld drie biere of mengeldrankies meer per tafel weggesluk as die mense die verste weg. Die klante wat naby ’n TV-skerm geëet het, het ’n groter geneigdheid gehad om gebraaide kos te eet, terwyl die mense aan hoë kroegtafels aan meer slaai en minder nagereg weggelê het.

’n Verklaring kan wees dat hoe minder opsigtelik jy voel, hoe makliker is dit om ’n ekstra bederf te bestel. Diegene wat in goed verligte dele gesit het, was dalk meer bewus daarvan dat mense vir hulle kyk en hulle dalk oordeel. Om langs ’n venster te wees kan jou ook laat voel jy word dopgehou. En jou aandag kan van goeie koskeuses afgelei word terwyl jy op ’n skerm sit en konsentreer.

Swak besluite kan natuurlik nie so maklik verklaar word nie. Dit is ook moontlik dat diegene wat van vetterige kosse hou, ook die soort mens is wat tafels op donker, weggesteekte plekke verkies.

Maar, soos Brian, sê: “Ons het ’n sêding in my laboratorium: ‘As jy maer wil wees, doen wat maer mense doen.’”

As jy dus meer beheer wil hê oor die keuses wat jy doen, kan dit nie skade doen om twee keer te dink voor jy in daardie hokkie gaan sit nie.

© Cover Media