Groentee, wat reeds vir duisende jare in China gedrink word, help na bewering met streshantering en gewigsbeheer.

Alle soorte tee – groen, swart en woeloeng – word uit die Camellia sinensis-plant vervaardig, maar deur verskillende metodes te gebruik.

Vars blare word gestoom om groentee te maak, terwyl gisting betrokke is by swart en woeloengtee.

Groenteeblare is dus veronderstel om meer antioksidante te bevat as die ander soorte.

Groentee bevat ook B-vitamiene, folaat, mangaan, kalium, kaffeïen en ander antioksidante, veral katekiene.

Hier volg ’n paar redes waarom ’n koppie groentee per dag die dokter kan laat wag.

1. Voorkoming van hartsiektes

Volgens Japannese navorsers kan slegs een koppie groentee per dag die risiko vir hartsiektes en voortydige sterfte verlaag.

Tydens ’n studie oor vier jaar, waarby 90 000 mense van 40 tot 69 jaar oud betrokke was, het navorsers bevind hoe meer groentee mense drink, hoe skraler was die moontlikheid dat hulle aan hartsiektes, ’n beroerte of respiratoriese siektes sou sterf.

Vroue wat net een koppie groentee per dag gedrink het, se risiko vir vroeg sterf, was 10 persent laer, maar hierdie syfer het tot 17 persent gestyg as hulle vyf koppies of meer per dag geniet het.

Die studie, wat verlede jaar in die Annale van Epidemiologie gepubliseer is, het ook getoon dat groentee dieselfde uitwerking het op mans.

Lees ook: Meer koffie kan alkoholverwante lewerskade teenwerk

2. Verligting van allergieë

Groentee kan mense help wat aan seisoenale allergie ly.

’n Studie wat in 2007 gedoen is en in die tydskrif Cytotechnology gepubliseer is, het getoon die polifenol in die tee kan allergieë verminder wat met stuifmeel verband hou.

Kwersetien, ’n flavonol wat natuurlik in die tee voorkom, kan ook ’n reaksie op histamien verlig.

3. Help moontlik om bloeddruk te verlaag

’n Oorsig van 2014 oor gepubliseerde studiestukke het gekyk of groentee bloeddruk kan help verlaag.

Daar was bewyse van ’n effense verlaging by mense met hoë bloeddruk wat groentee gedrink het.

Dit is egter nie duidelik of dit sal lei tot klinies betekenisvolle resultate nie, soos vir die voorkoming van die aanvang van hartsiektes of ’n beroerte.

4. Verlaging van cholesterol

In 2013 het ’n hersiening van 11 studiestukke, waarby meer as 800 mense betrokke was, getoon die daaglikse inname van groen- en swart tee (as drankie of in kapsulevorm) kan danksy die katekiene daarin help met die verlaging van cholesterol en bloeddruk, albei belangrike oorsake van hartsiektes en beroerte.

Dit is egter nog onduidelik hoeveel groentee ’n mens daagliks moet drink sodat jou gesondheid daarby kan baat vind.

Lees ook: Gestresde pa’s ‘dra risiko vir diabetes oor aan nasate’

5. Voorkom tandbederf

Swart tee en koffie het ’n slegte reputasie omdat dit jou tande kan vlek.

In 2014 is gekyk hoe doeltreffend groentee kan wees in die voorkoming van tandbederf, vergeleke by die meer algemene antibakteriese mondspoelmiddel chlorkexidien.

Die resultate het bevestig hulle is ewe doeltreffend, alhoewel ’n mondspoelmiddel van groentee goedkoper was.

6. Verlaag stres

Tianien is ’n aminosuur wat natuurlik voorkom in teeblare en daar word geglo dit het ’n kalmerende uitwerking.

Jy gaan dalk egter ses koppies moet drink voor jy die volle uitwerking sal voel.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Nepalese passasiersvliegtuig stort op gevaarlike roete neer

Is Daniel Craig klaar met Bond?

Dapper kankerlyertjie skitter op New Yorkse modeplank

Het jy sonde met die bure? Hier’s raad