1. Daar is geen ‘volmaakte dieet’ nie

Dit lyk of daar elke jaar ’n nuwe kitsdieet is. Party wil hê jy moet soos ’n grotmens eet; ander vereis dat jy honger ly. Navorsing toon dit maak op die ou end nie saak watter dieet jy volg nie, as jy kilojoules sny, sal jy gewig verloor.

In ’n artikel verlede jaar in The Journal of the American Medical Association sê die navorsers Sherry Pagoto en Bradley Appelhans ons moet die woord dieet vergeet en ons eerder op leefstylveranderinge toespits. Sherry is van die Universiteit van Massachusetts se mediese skool en Bradley van die mediese sentrum van die Rush-universiteit in Chicago.

Sonder gesonde leefstylveranderinge sal die gewig terugsluip. Dié leefstylveranderinge is onder meer voedingsberading (hoe om porsies te beheer, kilojouleryke kos te beperk en in restaurante te bestel), oefeningberading (hoe om doelwitte te stel en veilig te oefen) en gedragsveranderinge (hoe om jouself te monitor en gemotiveer te bly). Kitsdiëte is moeilik om vol te hou, sê Louise Bembridge-Carter, ’n dieetkundige van Johannesburg. “Mense verloor belangstelling en verval weer in hul ou gewoontes.

Deur leefstylveranderinge kan jy die swak gewoontes uitskakel. Jy moet ook besef die gewigbeheer is ’n lewenslange verbintenis wat jy moet maak.”

2. Dieet klop oefening

Dit kan jou moed breek as jy gereeld in die gim sweet, maar jou gewig bly dieselfde. Maar oefening kan net in ’n mate met maer word help.

Vir ’n proefneming wat in 2012 in die joernaal Obesity gepubliseer is, is 439 oorgewig postmenopousale vroue in drie groepe verdeel en ’n jaar lank bestudeer.

Die een groep het ’n laekilojoule-laevetdieet gevolg, die tweede groep ’n aërobiese oefenprogram van matige intensiteit en die derde groep ’n kombinasie van die twee.

Die groep wat net die dieet gevolg het, het gemiddeld 7,2 kg verloor, terwyl die een wat die aërobiese oefenprogram gevolg het net 2 kg verloor het. Maar dit beteken nie jy kan heeltemal ophou oefen nie. Die derde groep het die meeste gewig verloor: gemiddeld 8,9 kg.

Dis makliker om kilojoules in te neem as te verbrand, sê Alta Kloppers, ’’n dieetkundige van Alberton. “Oefen eerder vir die ander gesondheidsvoordele wat dit inhou.”

3. Oefening onderhou jou gewigsverlies

Oefening speel wel ’n belangrike rol by die instandhouding van gewigsverlies. ’n Ontleding van 25 jaar se dieetondersoeke wat in 1997 in die International Journal of Obesity gepubliseer is, het getoon mense wat ’n gesonde eetplan met oefening kombineer, is suksesvoller met die behoud van gewigsverlies.

Mense wat begin oefen, kom dalk agter hul gewig bly dieselfde of hulle sit ’n bietjie aan, sê Antoinette van Huyssteen, ’n dieetkundige van Kaapstad. “Moenie dat dit jou ontmoedig nie.

Oefening stimuleer die groei van maer liggaamsmassa, wat meer energie verg om te onderhou as vetmassa.”

Oefening kan ook jou metabolisme op selvlak verhoog, voeg Alta by. In 2010 het die joernaal Science Translational Medicine ’n ondersoek gepubliseer waarin navorsers die bloed ontleed het van mense wat 10 minute op ’n trapmeul gedraf het. Die 10 minute van flinke oefening het metaboliese veranderinge veroorsaak (soos verbindings wat vet en kilojoules verbrand en bloedsuikervlakke beheer) wat minstens ’n uur duur.

4. ’n Kosdagboek help met verslanking

Is al jou hoofmaaltye gesond, maar jy sukkel steeds om gewig te verloor? Het jy onthou om die kolwyntjie te tel wat jy by die werk geëet het? Dis dikwels ongesonde peuselhappies wat ’n gesonde eetplan in die wiele ry.

Dit kan jou help tred hou as jy neerskryf wat jy eet. Navorsing wat in 2008 in die American Journal of Preventive Medicine gepubliseer is, het getoon hoe getrouer mense van hul kos dagboek hou, hoe meer gewig verloor hulle.

“Mense wat dit daagliks gehou het, het twee keer meer gewig verloor as dié wat niks aangeteken het nie,” sê dr. Jack Hollis, hoofskrywer van die ondersoek.

“Dit blyk die eenvoudige daad van neerskryf wat jy eet, moedig mense aan om minder kilojoules in te neem.”

5. Ontbyt is belangrik

Dis ’n algemene gewoonte om ontbyt oor te slaan. Maar die uitsny hiervan kan verwoestend wees vir jou gewig. Die American Journal of Lifestyle Medicine het verlede jaar bevindings gepubliseer dat ontbyt faktore by jongmense verminder wat tot vetsug bydra “deur versadigheid en waargenome volheid te verhoog en ook glukosebeheer deur die dag te verbeter”.

Bewyse neem toe dat mense wat gereeld ontbyt eet, maerder is as dié wat ontbyt oorslaan, sê Irene Labuschagne, hoofdieetkundige by die Voedingsinligtingsentrum van die US.

“Mense wat gewoonlik ontbyt eet, kry ook meer vesel, kalsium, vitamien A en C, riboflavien (vitamien B2), sink en yster in, en minder vet en dieetkundige cholesterol, waarskynlik omdat hulle gereeld ontbytpap eet.”

6. ’n Kilojoule is ’n kilojoule

Wat die behoud van energiebalans betref, is dit die getal kilojoules wat tel, nie die voedingswaarde van kos nie. As jy meer eet as wat jy verbrand, al is dit gesondheidskosse, sal jy gewig aansit.

In 2010 het Mark Haub, ’n professor in menslike voeding aan die Staatsuniversiteit van Kansas, die Twinkie-dieet gevolg. Hy het 10 weke lank elke drie uur ’n Twinkie geëet. Hy het g’n kos geëet nie en aan skyfies, soet ontbytpap en koekies gepeusel. In twee maande het hy meer as 12 kg afgeskud.

Dit klink ideaal om gewig te verloor terwyl jy soet peuselhappies eet, maar dieetkundiges maan daarteen. Dit is veel makliker om te veel kilojoules in te kry uit gemorskos as gesondheidskos. Soet of gebraaide kos bevat gewoonlik volop kilojoules en min voedingstowwe.

EKSTRA BRONNE: mnn.com, usatoday.com, time.com, sciencedail y.com, cnn.com, ncbi.nlm.nih.gov , forbes.com, Medscape.com

- Petro-Anne Vlok