Daar is in studies bewys dat die selfdoodkoers meer in die lente as in enige ander seisoen toeneem, het ’n farmaseutiese maatskappy Dinsdag gesê.

“In die lente is daar geweldige druk om gelukkig te wees. Die kontras tussen wat ons dink ons behoort te voel en wat ons dalk voel, kan tot gevoelens van depressie lei,” het Mariska van Aswegen, ’n woordvoerder van Pharma Dynamics, in ’n verklaring gesê.

“Mense wat kwesbaar is vir selfdoodgedrag word deur meer uitdagings in die gesig gestaar wanneer die weer warmer word en sosiale interaksie vermeerder.”

Die jongste studies dui op ’n verband tussen geesteswelstand en warm weer. Drie dosente van universiteite in Skotland, Duitsland en Nederland het die studie genaamd The Effects of Weather on Daily Mood: A Multilevel Approach onderneem.

Elke dag neem daar gemiddeld 23 Suid-Afrikaners hul lewe. Sommige sielkundiges meen die toename in sonlig kan dalk die energie verskaf wat ’n depressiewe persoon nodig het om hulle daartoe te wend.

Mariska het gesê mense wat sukkel met allergieë en hooikoors is ook kwesbaar. “Hoofpyn, slapeloosheid en moegheid wat met allergieë verbind word, is alles ook simptome van depressie. Daar is ook in studies bevestig dat veranderinge in allergie-simptome tydens seisoene met lae en hoë stuifmeeltellings ooreenstem met veranderinge in pasiënte se depressie- en angsvlakke.”

Kliniese depressie word gekenmerk deur ’n depressiewe bui meeste van die dag en ’n verlies aan belangstelling in normale aktiwiteite en verhoudings. Simptome kan die volgende insluit: moegheid of ’n gebrek aan energie amper elke dag, beduidende gewigsverlies of -toename, ’n gevoel van waardeloosheid of skuldgevoelens, verswakte konsentrasie, slapeloosheid of oormatige slaap en ’n verminderde belangstelling of plesier in byna alle aktiwiteite.

Mariska sê indien enige van hierdie simptome meer as twee weke voortduur, moet jy by ’n praktisyn in geestesgesondheid om hulp aanklop. Sy beveel aan dat jy oefen en agt uur slaap per dag kry.

Kwaai depressie affekteer sowat een uit drie Suid-Afrikaanse volwassenes, 8,3 persent van volwassenes en 2,5 persent van kinders.