Dit is maklik vir jou om te voel asof jy wil gaan lê tot jy beter voel? Daardie ongemaklike gevoel kan jou maag boonop seer en teer laat voel.

Maar dit hoef nie die geval te wees nie; ’n paar klein, eenvoudige veranderinge kan dié probleem iets van die verlede maak.

Lees verder om te sien hoe jy opgeblasenheid vaarwel kan roep.

Die algemeenste oorsaak van opgeblasenheid is te vinnig eet. Tesame met kos neem jy ook lug in wat jou maag opgeblaas kan laat voel. Dit is ook ’n probleem as jy nie ordentlik kou nie.

“Wanneer jy haastig eet, kou jy nie ordentlik nie. Dan sit daar groter kosstukkies in jou ingewande wat wag om verteer te word,” verduidelik Stephanie Middleberg, ’n voedingkundige van New York, aan time.com.

Dit duur sowat 20 minute voor jou brein besef jy is vol. As jy dus te vinnig eet, eet jy dalk te veel, wat jou ook ongemaklik kan laat voel.

As jy met elke maaltyd ’n blikkie koeldrank drink, dra dit ook daartoe by, want die borrels in die koeldrank kan jou maag ook laat swel. Stephanie stel voor jy los die bottel of blikkie ’n rukkie oop voor jy begin drink; dit sal dan nie so baie bruis nie. Stephanie noem ook koeldrank kan kunsmatige versoeters bevat wat ook moeilik verteer.

Boerkool is nog ’n oortreder; dit is vol vesel en ’n suiker genaamd raffinose, wat moeilik verteer en opgeblasenheid veroorsaak as dit nie reg afgebreek word nie. Vermy rou boerkool – dieselfde geld vir broccoli en spruitkool.

“Eet minder boerkool en stoom of oondbraai dit as jy dit wel wil eet,” raai Stephanie aan.

Dit is ook nie wys om kort voor slaaptyd aandete te eet nie; dit sal jou traag laat voel en jy sal in jou slaap gewig aansit. Die beste is om sowat drie ure voor slaaptyd te eet. Jy moet ook in daardie tyd aktief probeer bly. Peusel liewer aan ’n vrug of ’n bietjie jogurt as jy honger raak, pleks van iets met baie koolhidrate.

© Cover Media