Dit is baie mans en vroue se grootste probleemarea, want vet pak maklik om jou middel aan en jy kan sukkel om jou maag definisie te gee. Maar watter gesondheidsgevare hou maagvet in en hoe kan ons vir altyd daarvan ontslae raak?

Oortollige maagvet, ook bekend as ingewandsvet, word verbind met onder meer tipe-2-diabetes, insulienweerstandigheid, inflammatoriese siektes, hartkwale, beroerte, ’n groter risiko vir borskanker, probleme met swanger raak en hoë bloeddruk. Dit is besonder kommerwekkend, want hierdie soort vet is in die maagholte en daarom verpak tussen belangrike organe, soos die maag en lewer. ’n Groot, harde maag kan trouens beteken ’n mens se interne organe is met vet omhul. Mans is meer geneig tot ingewandsvet, want die vroulike geslagshormone veroorsaak dat vet eerder op vroue se bobene en boude aanpak as om hul maag. Maar dit verander ná menopouse, waarskynlik weens laer estrogeenvlakke. Dit beteken jy moet met ’n groot maag afreken. Maar hoe?

Oefening

Dit is die doeltreffendste manier om jou maag onder beheer te kry. Baie mense wat aan ingewandsvet ly, is onaktief. Maar ongelukkig sal dit nie genoeg wees om op ’n rustige wandeling te gaan nie. Jy moet met ’n behoorlike roetine van aërobiese oefening begin en jou genoeg druk om te sweet. Oorweeg kragstap, draf, fietsry of ’n roeimasjien. Wat dit ook al is, vind iets waarvan jy hou en hou daarby. Om ware resultate te sien, moet jy vyf dae per week ’n halfuur tot ’n uur oefen.

Baie mense dink opsit- en kruloefeninge is die geheim tot ’n platter maag, maar dit is nie regtig die geval nie. Terwyl die kernoefeninge jou spiere sal help ontwikkel, sal jy hulle ongelukkig nie kan sien nie, tensy die laag vet verminder waaronder hulle skuil.

Dieet

Jy moet jou oefenroetine met ’n goeie dieet aanvul. Dit is tyd om oortollige suiker en oorverwerkte kosse vaarwel te roep. As jy by volgrane hou, sal jy werklik ’n verskil sien. Sorg dat jy minstens vyf porsies vrugte en groente per dag inkry en kies maer vleis, vis en laevetsuiwel. Hawermout, amandels, bessies en eiers help ook blykbaar jou maag plat hou.

© Cover Media