Salm en rooivleis is nog altyd beskou as goeie byvoegings vir 'n gesonde dieet, maar wetenskaplikes glo nou dat, as jy een van hulle elke dag eet, dit net so goed is vir jou soos dit is om op te hou met rook.

Salm is ryk aan vitamien B12, vitamien D, omega-3-vetsure, proteïne en vitamien B6, terwyl biefstuk 'n uitstekende bron van yster, vitamien B12 en sink, wat die immuunstelsel help om behoorlik te funksioneer, is.

Navorsers van die die Universiteit van Oos-Anglia glo dat persone wat groot hoeveelhede proteïenryke voedsel inneem, laer bloeddruk en gesonder are het, en dit verlaag die risiko op 'n hartaanval en beroerte aansienlik.

Die wetenskaplikes reken dit is te wyte aan die aminosuurvlakke in hierdie voedselsoorte. Aminosure help om proteïne te bou, wat op hul beurt weer help om die liggaam se selle, weefsels en spiere te versterk.

By persone wat die regte soorte proteïne, wat ryk is aan hierdie aminosure, ingeneem het, het dieselfde gesondheidsvoordele voorgekom as dié wat gebruik word om mense aan te moedig om op te hou met rook.

Die span het aanbeveel dat jy 'n 75 g-porsie biefstuk, 'n 100 g-salmfilet of 500 ml afgeroomde melk per dag inneem om te help om hartsiektes af te weer. Ander kossoorte wat by jou dieet ingevoeg kan word, sluit broccoli, bone, lensies en spinasie in.

Die studiestuk, wat in die Tydskrif van Voeding gepubliseer is, is gegrond op gesondheidsdata van 2,000 Britse vroue. Die span het die soorte voedsel wat die deelnemers geëet het in ag geneem en hulle het op sewe soorte aminosure gefokus.

Hulle het bevind dat die vroue wat die hoogste vlakke van aminosure ingekry het, se bloeddruk laer was, vergeleke by dié wat minder geëet het.

Groente, lensies en peulgroente het nou wel gehelp om die bloeddruk te verlaag, maar maer vleis en vis, soos byvoorbeeld salm, het gehelp met die onbuigsaamheid van die are, wat 'n groot oorsaak van beroerte en hartaanvalle is.

“Hierdie navorsingstuk wys die beskermende uitwerking wat verskeie aminosure op hartvatgesondheid het,” het die hoofnavorser, dr Amy Jennings van die universiteit van Oos-Anglia se Norwich Mediese Skool, gesê.

“Die werklik verbasende ding wat ons uitgevind het, is dat die inname van aminosure net so 'n groot invloed uitoefen op bloeddruk as dié van bevestigde lewenstylfaktore soos soutinname, fisieke aktiwiteit en alkoholinname.

Die verband in die geval van die onbuigsaamheid van die are was soortgelyk aan die omvang van die verandering wat voorheen by nie-rokers voorgekom het. Deur dus jou dieet te verander en meer vleis, vis, suiwelprodukte en peulgroente in te sluit, kan jy help om die siekte te voorkom en te behandel.”

© Cover Media