"Ses suksesvolle selfdoodpogings op een dag aangemeld."

Nee, jy sou dié ontstellende inligting nie in die media raakgeloop het nie, want al ses pogings is verlede week danksy die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se ingryping verhoed.

Dit is net nog ’n gemiddelde maar skokkende dag by Sadag se oproepsentrum.

Die Sadag-beraders het gedoen wat hulle daagliks doen – bel polisiestasies, ambulanse en hospitale op soek na beddens, en voer gesprekke met familielede oor die pad vorentoe.

Daar was verskeie opvolgoproepe om seker te maak die persoon leef nog en dat die nodige hulp wel verleen word.

Dit sal ’n Oscar-bekroonde fliek na kinderspeletjies laat lyk.

Die eerste oproep

’n Man het ’n oordosis pille gesluk. Die berader het met hom bly praat tot die man sy bewussyn verloor het. Terselfdertyd het ’n tweede berader reeds die ambulans ontbied en kort voor lank is hy hospitaal toe geneem.

Die tweede oproep

Iemand bel om te sê die buurman is gewapen en wil homself doodskiet. Talle onderhandelingsgesprekke volg, ook om die veiligheid te verseker van die persoon wat dit aangemeld het. Eindelik word die buurman oorreed om die vuurwapen te oorhandig.

Nog ’n berader het die polisie ingelig en na die toneel gestuur. Die polisie is advies gegee oor hoe om die situasie te ontlont. ’n Derde berader ontbied die ambulans.

Intussen kry die buurman ’n mes in die hande en begin om homself daarmee steek.

Sadag se span beraders koördineer die polisie en paramedici van die gratis Akeso-noodambulansdiens wat inderhaas na die toneel op pad is.

Die derde oproep

’n Johannesburgse maatskappy bel die oproepsentrum; een van hul werknemers in Kaapstad dreig om van ’n gebou af te spring. Die noodreaksie-eenheid word uitgestuur. Terselfdertyd moet die polisie ook aangeraai word hoe om die situasie te hanteer.

Dit is ’n groot maatskappy, maar hul werknemerwelgesteldheiddiens is nie in staat om hulp te verleen of iemand na die perseel te stuur nie. Die ambulans daag ook nie op nie.

Die Sadag-operateur het met die polisie onderhandel om die persoon na die naaste hospitaal te neem, waar hy 72 uur vir waarneming gehou sou word.

Die vierde oproep

Vroeg namiddag bel ’n ander maatskappy –een van hul werknemers dreig ook om van ’n gebou af te spring. Die vermoede bestaan dat dwelmmisbruik ’n rol gespeel het.

Ondanks die berader en die polisie se beste pogings, kan hulle nie die man oorreed om van die lysie van die gebou af te klim nie. Die polisie verlaat ná geruime tyd die toneel.

Verskeie oproepe deur Sadag-beraders na die stasiebevelvoerder se kantoor help om dit duideliker te maak hoe die situasie beredder kan word. Eindelik word ’n onderhandelaar na die toneel gestuur wat tot vroegaand tyd by die man deurbring.

Dit is van kritieke belang dat die polisie in elke area ’n opgeleide persoon vir situasies soos dié moet hê. Dit was onvanpas om die toneel te verlaat.

Ten einde die SAPD met trauma en spanning te help, het Sadag ’n tolvrye nommer, geborg deur Pharma Dynamics, op die been gebring.

Polisielede kan dié nommer, 0800-20-50-26, selfs anoniem kontak vir hulp en raad.

Die vyfde oproep

Die man wat inbel vertel dat hy ’n week vantevore selfdood probeer pleeg het deur gif en pille te drink. Hy is daarna in die hospitaal opgeneem en ’n paar dae later ontslaan. Maar hy het nie beter gevoel nie. Hy het ook nie vir opvolgbesoeke gegaan of sy medikasie geneem nie.

Hy vertel dat hy weer neerslagtig gevoel het en tot vroegoggend rondgeloop het op soek na iets waarmee hy homself kan doodmaak. Gelukkig het hy niks gevind nie. Daarna is hy terug huis toe, waar hy aan die slaap geraak het.

Daarna volg ’n paniekbevange oproep van sy ma aan Sadag waarin sy om hulp vir haar seun smeek.

Berading word onmiddellik ná die ontslag van pasiënte gereël. ’n Familielid wat hierdie sessie saam bywoon, is van groot waarde.

Die sesde oproep

’n Tiener bel en sy is hewig ontsteld. Sy voel selfdood is ’n uitweg nadat sy op pad huis toe seksueel misbruik is.

’n Berader gesels met haar en oorreed haar om hulp te soek. Haar ma word ook gekontak en dié help die tiener om by die huis te kom. Ma en dogter het albei dringende behandeling ontvang danksy verwysings van Sadag.

Die bostaande is net ’n glimp na die ontstellende oproepe wat verlede Vrydag deur Sadag ontvang is – en dit binne die bestek van ’n paar uur.

Wat sou gebeur het as daar nie ’n Sadag was nie? Die kans is goed dat hierdie ses mense geen hulp sou ontvang nie en in alle waarskynlikheid daarin sou slaag met hul aanvanklike plan vir selfdood.

Sadag se Selfdoodnoodlyn, wat R70 000 per maand kan oorskry, is altyd ’n tameletjie omdat dit nie maklik is om die lyn te borg en aktief te hou nie.

Sadag het finansiële steun/borgskap nodig om dié diens te laat voortbestaan.

Bel 0800-24-25-26 of gaan na Sadag om meer uit te vind hoe jy kan help.