Elke dag neem gemiddeld 21 Suid-Afrikaners hul lewe. Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se inbelsentrum in Johannesburg het 15 lyne beskikbaar waar mense krisisintervensie, berading, ondersteuning en verwysings na die beste professionele hulp bied.

Danksy dié vrywilligers met ’n gewillige oor kan Sadag dié onontbeerlike diens verskaf – die enigste selfdoodnoodlyn in die land.

Tracy* (56), is al vier jaar lank ’n vrywilliger.

Sy sê: “Nadat my man ná ’n lang siekbed oorlede is, het ek die tyd, ervaring en begeerte gehad om te deel wat ek uit die lewe geleer het. Ek het Sadag se advertensie in die koerant gesien en gebel. Ek verstaan die kwessies wat ter sprake kom by chroniese siekte, die spanning en depressie wat versorgers kan ontwikkel en hoe verwyder jy van die wêreld voel.”

Lees ook: ‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Reginald* (66) is al drie jaar lank ’n vrywilliger en het 136 vieruurskofte agter die rug by Sadag se inbelsentrum.

“Ek is ’n pensioentrekker en het gevoel ek stagneer omdat ek nie bydra tot die gemeenskap nie. Ek het die advertensie in die koerant gesien, en uit my eie lewe weet ek jy kan nie gister verander nie, maar jy kan môre beïnvloed. Om daar te wees vir iemand wat dalk niemand anders het om mee te praat nie, is ’n geskenk en ’n verantwoordelikheid,” meen hy.

Elke oproep het sy uitdagings, maar die een oproep wat Reginald altyd sal bybly, is die eerste een wat hy van ’n verkragtingslagoffer ontvang het.

“Ek was nie daarop voorbereid nie,” vertel hy.

“Dit was vir my as ’n afgetrede man ’n uitdaging om met ’n jong vrou oor haar verkragting te praat. Ek het so baie oor deernis en innerlike krag geleer.”

Busi (24), ’n student en ook ’n vrywilliger, sê: “Ek het met die Mandela-dag-vieringe op Morning Live van Sadag gehoor, die nommer neergeskryf en gebel. Ek het self moeilike persoonlike ervarings gehad. As vrywilliger in die geestesgesondheidveld kan ek mense bystaan wat weens stigma en onbegrip nie hulp kry nie.”

“Soveel mense in ons land is werkloos. Dit veroorsaak stres, angs en depressie. Vrywillige werk gee ’n mens ’n doel en ’n rede om wakker te word. Vrywilligers vorm die hart van enige gemeenskap en help om selfs in die moeilikste tye kontak te maak met ander en te voel jy het iets bereik,” sê Tracy.

“In ’n geknelde land moet ons teruggee.”

* Skuilname

Lees ook: Bipolêre steuring - ‘Dit raak ons elke dag: van ons opstaan tot ons gaan slaap’

Raak betrokke

Besoek die webtuiste sadag.org, laai die aansoekvorm af en vul dit in. “Ons bied deeglike opleiding,” sê Naazia Ismail, projekbestuurder by Sadag. Aanvanklik sal jy tyd deurbring saam met opleiers wat die inbellyne beman sodat jy kan sien hoe dit gedoen word. Jy sal 10 dae saam met mentors moet deurbring en ’n naweek lank opleiding ontvang van spesialiste soos sielkundiges en psigiaters. Jy moet belangstel in geestesgesondheid en self sielkundig gesond wees. “Daar is vrywilligers wat leef met ’n geestesteuring, maar hulle is stabiel en word deur ’n sielkundige of psigiater behandel,” sê Naazia.

  • Jy moet empaties kan luister en kreatief kan dink sodat jy inbellers ’n verskeidenheid van opsies kan bied.
  • Permanente vrywilliger moet minstens een skof van vier uur per week doen.
  • Mense wat nie in die Johannesburg-omgewing woon nie, kan betrokke raak deur ondersteuningsgroepe in hul woongebied te begin. Sadag sal ook daarmee help. “Dis nie terapiesessies nie,” sê Naazia. Jy kan so ’n groep minstens twee uur per maand lei en so ’n ruimte skep vir pasiënte wat by mekaar wil leer en mekaar ondersteun.
  • Bel Sadag by 011-234-4837

Die nasionale selfdoodvoorkomingslyn word sewe dae per week, 365 dae per jaar van agtuur soggens tot agtuur saans beman. Bel 0800-567-567 as jy in nood verkeer.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Kyk: Die kietsie skrik g’n niks vir water en reis boonop om die wêreld!

‘Hulle help my deur my donkerste tye’: Jong kwadrupleeg spandeer haar lewe om soos Barbie en Britney Spears te lyk

Kyk: Dis hoekom jy Wagter liefs nie ’n drukkie moet gee nie!