Die swaar neerslae die afgelope paar dae in Gauteng het talle paaie in die streek gisteroggend laat oorstroom. Bestuurders moet ekstra versigtig wees op nat paaie.

“,” waarsku John October van Dial Direct Insurance.

Jy raak dalk makliker gefrustreer wanneer jy teen ’n slakkegang in druk verkeer op glad paaie moet ry, maar dis uiters belangrik dat motoriste geduldig en rustig bly, sê hy.

“Verwag in slegte weerstoestande vertragings op pad en wees daarop voorbereid. Probeer geduldig wees en gun jou ekstra reistyd.”

Skakel ook in op ’n plaaslike radiostasie se verkeersverslag sodat jy vooraf weet watter roetes geraak word.

Hou die volgende in gedagte wanneer jy op nat paaie bestuur:

  1. Skakel in nat weer altyd jou voertuig se hoofligte aan.
  2. Gebruik die helderste verstelling van jou voertuig se agterligte sodat bestuurders agter jou jou voertuig beter kan raaksien.
  3. Gaan die ruitveërs na en maak seker dis in ’n goeie toestand sodat die voorruit behoorlik skoongevee sal word wanneer dit reën.
  4. Gebruik jou voertuig se teenwasem-stelsels of maak jou venster op ’n skrefie oop. So kan jy verhoed dat daar wasem teen jou motor se ruite opbou.
  5. Maak seker daar is genoeg loopvlak op jou bande oor. Minder as 3 mm vergroot die kans aansienlik dat bande in water sal gly.
  6. Gaan jou motor se skokbrekers na. Verslyte skokbrekers vergroot ook die kans dat jou voertuig sal gly, selfs met die beste bande.
  7. Wees veral op jou hoede wanneer jy voertuie verbysteek. Hul sproei verlaag sigbaarheid drasties.
  8. Op nat paaie het jou voertuig ’n langer afstand nodig om stil te hou. Handhaaf ’n volgafstand van tussen vier en agt sekondes.
  9. Moenie skielik rem trap of versnel nie. Skielike bewegings kan jou voertuig laat gly.
  10. Moenie deur oorstroomde gebiede ry tensy jy seker is die water is onder die rant van die wielvelling. As jy twyfel, moenie deur die water probeer ry nie; gebruik liewer ’n ompad.
  11. As jy nie anders kan as om deur ’n gebied waar water opdam te ry nie, ry stadig en in ’n lae rat terwyl jy die stuurwiel stewig vashou.
  12. Nadat jy ’n rukkie in swaar reën gery het sonder dat jy die remme gebruik het, trap dit liggies om dit droog te maak, veral as jou voertuig dromremme het.
  13. As daar fout kom met jou kar, skakel die noodflikkerligte dadelik aan en beweeg heeltemal van die pad af. Maak seker daar is ’n weerkaatsende driehoek wat jy ver genoeg agter jou voertuig kan neersit om aankomende motoriste te waarsku.

Ekstra bronne: Beeld.com