’n Span van King’s College in Londen het ’n navorsingstuk gepubliseer waarin hulle beweer daar is ’n verband tussen rook en psigose, waarskynlik omdat sigarette die manier verander waarop die brein reageer op plesier en beloning. Dit kan glo tot probleme met geestesgesondheid lei.

Dit is reeds bekend dat mense met psigotiese siektes meer geneig is om te rook, maar daar is voorheen aanvaar die rede hiervoor is omdat rook hulle help om hul gevoelens te verwerk.

Nou word beweer dit is nie al rede nie. Die navorsingstudie wat in die sielkundetydskrif Lancet gepubliseer is, wys daarop mense se psigose is ’n resultaat van hul rokery wanneer dit met goed soos hul genetiese samestelling verbind word.

“Ons bevindings dui daarop dat rook ernstig beskou moet word as ’n moontlike risikofaktor by die ontwikkeling van psigose en dat dit nie net as ’n gevolg van ’n siekte afgemaak moet word nie,” het dr. James MacCabe gesê.

Wetenskaplikes het die moontlike verband gevind toe hulle die inligting bestudeer het wat by 290 000 mense in 621 studies ingesamel is. Altesaam 15 000 van daardie mense het gerook en daar is bevind 57 persent van die mense wat vir die eerste keer vir psigose behandel is, sigarette gerook het.

Psigotiese pasiënte was drie keer meer geneig om te rook as dié wat geen probleme gehad het nie, terwyl diegene wat elke dag gerook het, ’n jaar vroeër siek geword het as nie-rokers.

Die wetenskaplikes het daarop gewys dit is tans net ’n statistiese verband en hulle weet nie of tabak enigiets bevat wat iets soos skisofrenie kan veroorsaak nie. Hulle het wel bespiegel dat dit iets te doen kan hê met dopamien, die chemikalie wat emosie in die brein beheer.

“Dit is moontlik dat blootstelling aan nikotien, wat die vrystelling van dopamien verhoog, die oorsaak kan wees dat psigose ontwikkel,” het prof. sir Robin Murray van die instituut van psigiatrie aan King’s College, gesê.

© Cover Media