Dalk is jy een van hulle, wat ná ’n stresvolle werkdag die een glas ná die ander wegslaan.

Daar is niks fout met ’n ietsie ná werk nie, maar jy moet seker maak jy geniet dit op die beste manier moontlik. Kyk of enige van hierdie rooiwynflaters op jou van toepassing.

Jy drink, maar laat staan die oefening

Al is dit al bewys rooiwyn kan jou spiere en bene beskerm, soos oefening ook doen, beteken dit nie noodwendig jy kan die een met die ander vervang nie. Trouens, jy sal daagliks liters rooiwyn moet afsluk om dieselfde resultate as ’n oefensessie te kry, wat jou lewer kan verniel.

Besluit op ’n oefenroetine en hou jou gunstelingdrankie vir spesiale geleenthede.

’n Drankie voor slaaptyd

Jy raak ná ’n glasie dalk makliker aan die slaap omdat die alkohol jou kernliggaamstemperatuur verlaag en hormone vrystel, maar dit duur nie lank nie. In ’n studie deur die National Institutes of Health is daar bevind dié wat saans laat drink, ná ’n paar uur wakker skrik en lank rondrol voor hulle weer aan die slaap raak. Drink liefs effe vroeër sodat dié uitwerkings jou nie so swaar tref nie.

Drink om jou vel te verbeter

Rooiwyn word verbind met fermer vel; daar word beweer dit kan ook teen sonskade beskerm. Dit is wonderlik as jy dit in room of seep kry, maar deur dit te drink, kry jy nie dieselfde beskerming nie. In werklikheid kan rooiwyn jou dehidreer, wat jou ouer kan laat lyk. Te veel wyn sal ook lewerskade aanrig; moet dit dus nie as verjongingskuur beskou nie. Hou by ’n gebalanseerde dieet.

Jy drink te veel

Die voorkoming van tandbederf, gewigsverlies en goeie geestesgesondheid – dit is net ’n paar voordele wat rooiwyn blykbaar bied. Dit is nou as jy by die voorgestelde twee glase per dag hou, maar meer as dit, sal die teenoorgestelde uitwerking hê. Terwyl ’n goeie dosis jou lewe sal verleng en jou hart versterk, kan te veel rooiwyn die risiko vir hartsiekte verhoog. Moet dit nie oordoen as jy gesond wil bly nie.

© Cover Media