.

Volgens wetenskaplikes is die kans om die siekte te kry 42 persent hoër by mense wat vier porsies rooivleis, wat minder as 284 g is, per week verorber. Selfs net twee porsies per week word ook aan ’n verhoogde risiko gekoppel.

Die Wêreldgesondheidorganisasie het verlede week (wat op 30 Oktober 2015 geëindig het) ’n ernstige waarskuwing uitgereik oor die gevaar van verwerkte vleissoorte. Hulle het trouens beweer dat mense wie se dieet groot hoeveelhede verwerkte vleis insluit, kanker kan ontwikkel.

Die nuwe studie, waarby 500 000 middeljarige mans en vroue betrokke was, is een van die grootstes van sy soort en dit lyk asof dit die bewering steun.

Elkeen van hulle het ’n vraelys ingevul waarop hulle hul vleisinname tussen 2006 en 2010 aangedui het. In daardie vier jaar het 1 503 van hulle ingewandskanker gekry, en daar is ontdek dat mense wat vier keer per week rooivleis of verwerkte vleis geëet het, 42 keer meer geneig was om die siekte te kry as dié wat dit glad nie of net een keer per week ingekry het.

Selfs mense wat dit net twee keer per week geëet het, se vlakke het met 18 persent gestyg, vergeleke met dié van vegetariërs.

’n Porsie word as 70 g beskou en dit is gelyk aan twee stukkies spek of een worsie. Om jou ’n idee te gee, ’n burger se vleis kan tot 200 g weeg, terwyl ’n steak van 285 g dikwels voorgesit word.

“Mense moet bewus wees van die risiko’s en moet, indien nodig, klein veranderings aanbring,” het prof. Tim Key van die Universiteit van Oxford gesê.

“Die verstandige benadering blyk die eet van ander soorte voedsel as vleis te wees. Plantgebaseerde proteïene soos boontjies, hoender en vis is dus die ware Jakob.”

Hierdie bevindings word op Dinsdag (3 November 2015) in Liverpool by die konferensie van die Nasionle Kankernavorsingsinstituut voorgelê.

Nog 200 000 mense gaan ondervra word tydens die voortsetting van die navorsing. Dit is deels omdat die eerste groep nie die grootte van hul vleisporsies bespreek het nie, dus gaan dit hierdie keer aangedui word.

© Cover Media