Navorsers aan die Universiteit van Chicago het sowat 3 000 mense in twee siklusse oor ’n tydperk van meer as vyf jaar bestudeer.

Die vyf reuke wat in die studie gebruik is, is vis, rose, leer, lemoen en peperment. Deelnemers is gevra om elke reuk deur ’n penvormige toestel te ruik en is daarna vier moontlike antwoorde gegee.

Die meeste mans en vroue kon vier of vyf identifiseer, wat dui op ’n normale reuksin. Sowat ’n vyfde kon twee of drie reuke identifiseer, wat ’n aanduiding is van matige verlies van die reuksin, minder as ’n tiende kon slegs een of geen daarvan identifiseer, wat dui op die verlies van hul olfaktoriese sintuig.

Navorsers het bevind dat meer as ’n derde van diegene wat reuksintoetse gefaal het, het binne ’n tydperk van vyf jaar gesterf, teenoor minder as ’n vyfde van diegene met matige verlies en ’n tiende van diegene met ’n gesonde reuksin.

Die studie is in die joernaal PLOS One gepubliseer en daarin word aangevoer dat navorsers ’n “vroeë waarskuwingsteken” gevind het. “Ons glo die verlies van die reuksin is soos die kanarie in die steenkoolmyn,” sê dr. Jayant Pinto, die hoofouteur van die studie. “Ons bevindinge kan ’n nuttige kliniese toets wees, ’n vinnige en goedkoop manier om die kwesbaarste pasiënte te identifiseer.”

Dit lyk of die onvermoë om te kan ruik ’n akkurater waarskuwing van die vroeë dood as selfs kanker of hartversaking kan wees. Die olfaktoriese senuwee dra inligting van die neus na die brein en is ’n teken van algehele gesondheid. As dit permanent beskadig is, kan dit beteken dat die liggaam en brein ook beskadig is.

Infeksies, gif en besoedeling wat ons inasem, kan ook hierdie senuwee beskadig voor dit die brein of liggaam aantas. “Besoedeling kan hart-, long- en breinsiektes beïnvloed wat tot vroeë sterfte kan bydra,” sê Jayant.

© Cover Media