’n Mens hoor dikwels ouer familielede met hunkering praat van die verlede en die “goeie ou dae” toe alles soveel beter was – en wetenskaplikes reken wat dieet betref, het hulle dalk ’n punt beet.

In onlangse navorsing is bevind die samelewing sal baat vind by die gebruik om porsies te beheer soos hulle in die 1950’s gedoen het. Hedendaagse diëte sluit dikwels groot hoeveelhede verfynde suiker en eenvoudige koolhidrate in wat op die lange duur tot vetsug kan lei.

Porsiegroottes raak ook ál groter en baie mense eet aansienlik meer as tevore. Kleinhandelaars se verpakkings bevat nie net groter hoeveelhede nie; jy oorlaai ook jou bord tuis en het geen probleem daarmee om alles te verorber nie omdat jy aan groter porsies gewoond geraak het.

Gesondheidswetenskaplikes by die universiteite van Cambridge en Oxford glo die antwoord lê daarin om terug te keer na die manier waarop mense in die 1950’s geëet het.

“Kleiner porsies ten opsigte van die hele dieet, met die doel om groot verminderings in verbruik ’n werklikheid te maak, kan beteken dat ons moet terugval op porsiegroottes en tafelgerei wat gelykstaande is aan dié van die 1950’s,” beweer hulle in die British Medical Journal.

Hulle het in hul studie ’n lys van supermarkprodukte aangedui wat die afgelope 20 jaar groter geword het. Dit sluit in pasteitjies, kolwyntjies, bagels en pizzas – ook nie gesonde keuses nie.

Die wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom elke mens behoort daarna te streef om 660 kilojoules per dag minder in te neem. Hulle glo ook restaurante, kroeë en supermarkte moet porsiebeheer toepas om mense te help om gewig te verloor en hul eetgewoontes baas te raak.

Die raad volg op ’n studie wat getoon het Britse vroue se borsmaat het aansienlik groter geword sedert die 1950’s. Destyds was die gemiddelde keëlgrootte ’n B, maar tans is dit ’n stewige DD. Die Britte het ook die VSA, waar die gemiddelde keëlgrootte ’n C is, verbygesteek.

Dit het gedeeltelik te doen met die feit dat vroue oor die algemeen groter is as voorheen. Die gemiddelde rokgrootte in Brittanje is tans 16. Die soorte kos wat ’n mens eet is ook ’n sondaar. Die hormone in beesmelk het na bewering ook ’n uitwerking op die neiging.

© Cover Media