Soms is dit nie moontlik om meer te slaap of ’n rustige aand by die huis deur te bring nie (te veel Kerspartytjies in die vooruitsig!). Wat kan jy doen?

Dit is wonderlik wat reiniging van jou gestel vir jou energievlakke kan beteken, veral as jy dit aanvul met antioksidante, vitamiene en minerale. Dit beteken nie jy hoef vir jou ’n afspraak vir ’n kolonspoeling te maak nie. Daar is makliker maniere om jou gestel spiekeries te hou. Ons kyk na kosse wat jou in ’n japtrap sal laat oorloop van energie.

Appels

Hulle is propvol pektienvesel wat verhoed dat gifstowwe in jou gestel ophou. Die sellulose daarin verpak afvalstowwe stywer, wat beteken dit rits vinnig deur die spysverteringstelsel. Boonop bevat die vrugte hope kalsium, yster, kalium en vitamien A en C.

Avokadopere

Hierdie vrugte is propvol goedheid – vesel, vitamien K, B6, C en E, folaat, magnesium en kalium. Dit is ook ’n goeie bron van antioksidante wat jou lyf help gesond hou deur vrye radikale te beveg. Avokadopere verlaag ook cholesterol en hou die kardiovaskulêre stelsel gesond.

Beet

Buiten dat dit volop vitamiene en voedingstowwe is, help beet ook die bloed suiwer en die lewer reinig. Dit werk ook as ’n diuretikum, wat beteken dit help die liggaam vogretensie hanteer.

Bloubessies

Hierdie vruggies is dikwels bo-aan mense se gesondheidslysie danksy hul antioksidant-eienskappe. Dit verhoed dat bakterieë en gifstowwe die organe bereik. Dit verlaag ook bloedsuiker en bevat ’n ellagsuur, wat blykbaar kankerwerende eienskappe het.

Kool

Ons weet dit is nie almal se gunsteling nie, maar die antioksidante daarin is legendaries en kool kan die lewer hormone help hanteer en ook ontgif.

Bronkors

Nog ’n blaargorente wat baie gesond is vir jou. Dit is ’n uitstekende liggaamsreiniger wat ook die bloed help suiwer en anti-inflammatories is.

© Cover Media