’n Stuk wat onlangs in The Journal of Strength & Conditioning Research gepubliseer is, dui daarop dat nie almal gewig verloor wanneer hulle oefen nie. Ons weet dit is ’n slag.

Navorsers aan die Arizona-staatsuniversiteit het gekyk watter uitwerking oefening oor ’n tydperk van 12 weke op ’n groep oorgewig vroue het. Terwyl party kilogramme afgeskud het, het ander in werklikheid gewig aangesit. En erger nog, hulle kon nie agterkom hoekom dit die geval was nie.

Dit klink nie goed nie. Maar probeer jou nie te veel daaroor bekommer nie, want oefening het baie ander voordele. Ons weet die meeste mense wil gewig verloor wanneer hulle slaafs op die trapmeul sweet, maar oefening het ook ander voordele:

Geheue

Dit klink dalk vreemd, maar luister mooi: Inflammasie en hormoonwanbalanse is twee goed wat geheueverlies kan veroorsaak. En raai wat? Gereelde oefening help met albei danksy die uitwerking wat dit op bloedvloei het. Want, jy sien, beter bloedvloei beteken beter breinwerking.

Stres

Dit is ’n vanselfsprekende een, maar moenie misgekyk word nie. Daar is ’n paar redes waarom gimsessies daarmee kan help. Dit sorg onder meer dat die streshormoon kortisol nie handuit ruk nie. Time.com wys op die boek The Exercise Cure deur dr. Jordan Metzl waarin kortisol met angsgevoelens in verband gebring word. Of dit nou ’n aaklige dag by die werk is of senuwees vir die werkdag wat voorlê, is ’n oefensessie dalk net wat jy nodig het.

Moegheid

Stel jou voor: Jy het ’n aaklige dag agter die rug. Meningsverskille by die werk, ’n uitmergelende pendelrit. Jy is doodmoeg. Wat moet jy doen? Gaan gim natuurlik! Ons weet dit klink vreemd, maar ’n ondersoek aan die Universiteit van Georgia het getoon lae-intensiteit-oefening kan moegheid klop; dus het jy regtig geen rede om nie jou oefenskoene aan te trek nie.

Gesondheid

Dit is ook geen verrassing nie, maar moenie vergeet hoeveel oefening vir jou liggaam beteken nie. Dit hou jou longe en hart gesond, kan rugpyn verlig, help jou spiere sterk word en sal jou ferm laat lyk.

© Cover Media