Volgens ’n onlangse studie raak die gemiddelde mens 2 617 keer per dag aan hul foon - dit beteken ongeveer ’n miljoen keer per jaar.

Navorsers by die navorsingsfirma en sagtewareverskaffer dscout het die gedrag van 94 Android-gebruikers nagegaan ten einde die bevindings in te samel. Hulle het gemerk 10 persent van die gebruikers het hul skerms 5 427 keer in net een dag gedruk; dit beteken ’n totaal van 2 miljoen keer in 12 maande. Volgens Michael Winnick, stigter en HUB van dscout, gaan die syfers nie laer raak nie.

“Ek dink nie ons gaan gou die digitale toppunt bereik nie,” het hy aan DailyMail.com gesê.

“Style ten opsigte van wisselwerking kan verander en dit skep ’n geleentheid vir nuwe norme, soos stem, vergrote werklikheid en VR. Die vorm sal dus heel moontlik verander.

“As ons ’n weddenskap moet aangaan daaroor, sal ons sê die hoeveelheid tyd wat ons aan digitaal bemiddelde produkte gaan bestee, gaan nie minder raak nie. Ons gaan moontlik net ons vingers minder gebruik.”

Mense is vyf dae lank oor 24 uur gekontroleer en die data het getoon baie van die deelnemers het ongeveer 2 uur en 42 minute per dag aan die slimfoonskerm geraak, terwyl die elite 10 persent 3¾ uur gebruik het vir enigiets, van teksboodskappe stuur en Tinder gebruik, tot blaai deur Facebook.

Die gegewens het ’n gemiddeld van 76 verskillende foonsessies deur die dag getoon, Die elite 10 persent het 132 sessies gehad.

“Ons is nie noodwendig vir lang tye aan ons fone vasgekluister nie. Dit is meer soos 76 herhalings per dag met ’n 0,1 g-oefengewig,” het Michael bygevoeg. “Lang gebruiksessies is seldsaam – meestal ten opsigte van NetFlix en lees. Mense verkies oor die algemeen verskeie klein sessies met verposings tussenin.”

Dit is nie goeie nuus vir mense se hande nie. Dr. Mark Ciaglia, ’n handchirurg, het onlangs aan FOX5 gesê hy sien ál meer 40-jarige en jonger pasiënte met pynlike inflammasie en styfheid in hul gewrigte as gevolg van teksboodskappe stuur en speletjies speel.

“Met die koms van teksboodskappe stuur en videospeletjies, asook die uitermate gebruik van rekenaars en tik, slyt die gewrigte vroeër, dus sien ons in werklikheid ’n verskuiwing in die demografie van pasiënte wat artritis opdoen, want hul gewrigte slyt eenvoudig vroeër,” het Mark by die Woodlands-sentrum vir gespesialiseerde chirurgie in Texas gesê.

© Cover Media